Thursday, September 30, 2010

My versoek vr hulp en bystand vir die mense van Vanuabalavu

Ek is vandag so opgewonde want ek het hierdie wonderlike idees in my kop van alles wat ek wil doen en hoe ek die mense van die eiland van Vanuabalavu wil help. Maar dis ook nie op my eie dat ek dit kan doen nie en versoek daarom dus julle hulp sodat hierdie mense wat in my hart ingekruip het ook ‘n stukkie ‘hemel’ kan ervaar wat ons so as vanselfsprekend aanvaar en geniet.

Volgens die mense met wie ek hier op die eiland, en selfs in Suva (die hoofstad van Fiji) gesels het, word Vanuabalavu en ander eilande in die Lau groep, die “Vergete eilande” genoem. Die rede hiervoor is dat dit baie ver van die hoofeiland is en die regering nie veel aandag aan hierdie gedeelte gee nie. Dit is nie voortvarend soos die ander eilande nie, en was daarom ‘n maklike teiken in die verlede gewees vir Tonga om die eilandgroep oor te neem. As gevolge daarvan is die Tongaanse invloed sterk te bespeur in die kultuur en boustyl van die mense op hierdie eiland.

Alle voorrade en ander benodighede word vanaf die hoofeieland ingevlieg of per boot verskeep wat die kostes geweldig opstoot en beinvloed. Daarom dat net die uiters noodsaaklike voorrade aangekoop word, aangesien dit net te duur is vir enige ander sogenaamde luukshede.

Reeds word meeste van Fiji se voorrade en daaglikse gebruikmiddels van New Zealand of Australie ingevoer wat dit vir meeste mense buite bereik laat. ‘n Vliegtuigrit vanaf Vanuabalavu na Suva (wat slegs eenkeer per week plaasvind) neem sowat ‘n uur en ‘n half. ‘n Bootreis neem sowat 28 uur indien die weer dit toelaat. Die boot kom ook net eenkeer per maand uit na die eiland, maar indien die see rof is, word dit gekanselleer en wag dit tot die volgende maand. So baie keer is goed bestel en betaal, maar het mense twee maande moes wag vir die voorraad om te arriveer.

Maar laat ek so bietjie meer agtergrond gee oor myself en my werk :

Ek het na die eiland gekom om hier te werk as eilandbestuurder van Nabavatu Plantasie waar kokosneute verwerk word tot ‘Virgin Coconut Oil‘. Dis maar een van vele take wat my opgele is, maar geniet ek ook die ander uitdagings en wat dit my bied. So het ek ook vele male met Skapie se 3 stiefma‘s baklei en stoei vir ‘n speen om aan te suig (nie ek nie, Skapie - lol), en in die proses ’n paar byt- en stampwonde opgedoen. Ook is ek verantwoordelik vir die betaling van salarisse en ook die bestuur van die piepklein winkeltjie in die village waar slegs 6 huise is. Dan ook maar net algemene instandhouding van die plek.

Dis egter ‘n baie groot opoffering wat ek moes maak om hiernatoe te kom, en indien ek voor die tyd moes weet wat my hier te wagte sou wees, sou ek dit sekerlik nie aanvaar het nie. Maar nou is ek hier en wil ek ‘n verskil maak aan die lewensgehalte van die mense en hulle iets bied wat voorheen geensins hier beskikbaar was nie. Ook wil ek hulle leer om iets met hul hande te doen en te maak, sodat hulle besig kan wees met kreatiewe idees en sodoende ‘n ekstra inkomste vir hulself te kan genereer.

In Mavana word wel matte gemaak van blare van ‘n soort plant wat op die land groei, maar verder geen ander bedryf nie. Ek wil hulle leer om goed soos juwele te maak met die sade en skulpe wat hier beskikbaar is, of boekoortreksels met die flas van die Kokosneutboom, en ook om die blare van sekere bome te kan gebruik om geskenkies van te maak. Of selfs net kaartjies wat mense kan gebruik as aandenking of sommer net aan vriende of familie te kan stuur. Maar soos ek genoem het, moet alles van die hoofeiland af kom, en is daar in Suva ook nie veel te vinde nie. Daarom dat ek gedink het om almal van julle te vra om tog net ‘n klein bydrae te kan maak en vir my (die werkers) ‘n klein pakkie te stuur met paar benodighede in. Dit hoef nie duur te wees nie en moet verkieslik sommer net in ‘n “padded envelope” kan pas. Ek het verskeie goed nodig wat geensins hier op die eiland beskikbaar is nie, goed soos byvoorbeeld inkleurpotlode, kleefband, Bostik (slegs ‘glue sticks’ is hier beskikbaar maar nie sterk genoeg waarvoor ons dit benodig nie) en nog baie ander dinge wat ek hieronder sal noem.

Met dit wat ek tot my beskikking gehad het, het ek die afgelope week vir hulle gewys wat ek in gedagte het hoe om ’n ekstra inkomste te kan verdien. Maar soos Ema se, en ek kwoteer : “What that, with what money. From where’s we get things to makes?” Hulle was verbaas toe ek wel aan hul die paar goedjies wys en was almal opgewonde om iets te begin doen. Soveel so dat almal nou sade optel en kyk vir mooi blare wat ons kan gebruik vir die doel.

Nog ‘n idee wat ek het, is om ‘n koffiekroeg of ‘n klein restaurantjie hier op die eiland te begin. Daar is soveel wat van my idee hou, en het die nuus nou al ver versprei en kyk die mense op na my om te sien wat ek uitgerig gaan kry. Hier was nog nooit voorheen enige iets van so aard nie aangesien niemand die geld het om so iets te begin nie. Soos voorheen op Facebook genoem is daar die oulikste klein huisie op die strandfront in Lomaloma wat ek vir die doel wil gebruik. Ek was absoluut verlief op die vervalle plekkie wat ongelooflike potensiaal het, wat na die sikloon net so agtergelaat is omdat daar nie geld is om dit reg te maak nie. (voorrade om dit te herstel moet van Suva per boot kom en die aankoop en verskepingskostes is baie - in hul terme)

Hier is geen aktiwiteite vir die mense op die eiland nie. Geen restautant of koffiekroeg waar hulle net kan gaan sit en ‘n stukkie koek eet of koffie drink nie. Geen gym waar hulle kan oefen nie, geen ander sport word hier beoefen nie. Geen winkels om in rond te loop of net sommer ‘window shopping’ te doen nie. Niks, absoluut niks! Hier is niks wat hulle lewenskwaliteit kan verbeter nie. Selfs om na die TV te kyk of radio te luister is vir baie net iets wat hulle van weet maar self nie het nie, of by bure moet kyk of luister. Daarom dat daar meeste aande net Kava gedrink word want dit is die enigste aktiwiteit op die eiland - om dronk te word! Op die hele eiland is 3 winkels te vinde wat kosvoorraad en ander huishoudelike items verkoop. En dan moet ek ook byvoeg, dat dit nie is soos waaraan ons tuis gewoond is nie. Net die nodigste word hier verkoop. Die grootste winkel hier in Lomaloma het 8 rye rakke en elke rak het ‘n verdere 3 rakke aan beide kante, met ander woorde 48 in totaal. Daar is op elke rak nie veel te vinde nie aangesien net die nodigste uitgestal word, maar lyk die winkelrakke wel vol. Die rede? Een hele rak sal byvoorbeeld net Bully beef / Corned Beef op he (sowat 100 blikkies of dalk meer) terwyl ’n ander een weer net blikkies met vis bevat. So het elke rak omtrent dieselfde verhouding met dit wat daarop uitgestal word. Een soort, maar baie van dit.

So kry ek byvoorbeeld geen onderarmsproei hier nie, of selfs ’n ander badseep as net die ‘pers of pienk’ wat beskikbaar is. Geen handeroom of ander mooimaak goed soos gesigpoeiers of ‘make-up' is hier vir die vrouens beskikbaar nie. Ema was ekstaties toe ek haar vertel dat ek my vriende gaan vra om vir haar tog net 'make-up' te stuur. Ja, en om te dink dat in Suid Afrika mens so maklik verby iets loop sonder om aandag daaraan te skenk, min wetende dat daar ‘n baie groot nood is daar buite van mense wat nog nooit so iets kon he of bekostig nie.

Selfone hier is so oudmodies en is my foon die grootste aantrekkingskrag hier op die eiland. Mense het nou al tot aan die anderkant van die eiland gehoor my foon kan musiek speel, foto’s neem, op die internet gaan, speletjies speel en nog so paar ander goed doen. Die fone wat ek hier gesien het by van die mense, het almal klein skermpies so groot soos jou duimnael. Om foto’s per ‘mms’ te stuur het hul nog nooit van gehoor nie aangesien dit nie hier beskikbaar is by enige van die twee netwerke nie. ‘n Geheuekaart het hul nie eens geweet bestaan nie. Soos Ema altyd se : “What that?” En om te dink ek het 3 ander ongebruikte fone in SA wat ek aan hulle kon gegee het.

So julle kan sien hulle mis geweldig uit en is ek hier om te help om ’n verskil te maak. Maar met my salaris wat ek hier verdien, kan ek nie al die kostes alleen dra nie. Net om jul ’n idee te gee. Ek verdien nie baie nie, en my voorraad wat ek die maand alleen, van Suva bestel het (wat per boot hiernatoe kom) is gelykstaande aan 3 weke se salaris. En dis vir een maand se gebruik! Ek het gedink ek sou iets kon spaar en wegsit, maar weens die feit dat hier niks is nie en ek alles van Suva moet bestel, oorleef ek ook maar net van dag tot dag. Maar ek klae nie, al klink dit soms so. Ek het nou al ’vrede’ gemaak met die idee dat ek hier is en nie veel luukshede sal he nie. Maar glo my, baie dae verlang ek net om ’n lekker roomys te kan eet, ’n gaskoeldrank te kan drink, sjokolade te kan he, kaas oor my kos te kan geniet, pap te kan eet, ‘n vleisie te kan braai, yohurt te kan verslind, of sommer myself met biltong te bederf. En niks van dit is hier beskikbaar nie! En hierdie is maar net ‘n handvol van dinge wat nie hier bekombaar is nie.

Ek vra daarom dus dat julle dit sal oorweeg om vir ons hier iets te kan stuur soos in my lysie hieronder weegegee word. Met dit wat ek van julle sal ontvang, sal ek hulle dan weer kan help en sodoende ‘n “Upliftment program” kan begin. Nie soseer om my eie behoeftes te bevredig nie, maar vir hulle wat ‘n baie groot nood het. Vir die mense wat nog nooit iets gehad het wat ek of jy elke dag geniet of ervaar nie.

As elkeen net met my kan konfigureer oor dit wat hulle kan stuur, sodat ek kan kontroleer en nie uitmis op iets nie. Dit hoef regtig nie duur te wees nie en moet, soos genoem, sommer net in ‘n “padded envelope” kan pas wat verkieslik dan net ook geregistreer moet wees. Dit moet regtig nie jou sak ruk nie, en enige iets van 10 tot 100 rand sal waardeer word :

My adres is soos volg :

Tjaart Herbst
Manager of Nabavatu Plantation
PO Box 24
Lomaloma
Vanuabalavu
Lau group of islands
Fiji

Ons het dinge nodig soos :

( En glo my as ek se dat hier geen sulke dinge beskikbaar is nie, selfs in Suva aangesien ons kantoor daar is en hulle my verbaas gevra het wat meeste van die goed is )

Naalde - verskillende diktes - om gaatjies in sade te druk om die vislyn deur te ryg.
Klein en groterige sker, asook een met ‘n riffel lem wat gebruik kan word om kaartjies te sny vir ‘n riffelrand effek
Verskillende kleure en dikte lint - om strikkies te maak vir die kaartjies as versiering
Verskillende kleure en grootte kraletjies wat in die maak van juwele gebruik kan word tesame met die sade
Hakies om die stringetjie krale vas en los te maak
Enige ander versierinkies wat in die maak van juwele gebruik kan word
Bostik of ander sterk gom - hier is slegs ‘glue stick’ beskikbaar en geensins vir die doel waarvoor ek dit wil gebruik nie
‘n ’NT Cutter’ met lemmetjies vir die sny van papier
Waterverf vir die verf van motiewe op die papier vir kaartjies
Kalligrafie pennestel - vir myself wat ek kan gebruik om sierskrif op die kaartjies te doen
Kleurkryt en ander inkleur potlode
Plakkertjies wat gebruik kan word op die kaartjies
Wit harde papier om kaartjies te maak. A4 of A5 groottes
Wit koeverte - verskillende groottes aangesien hier slegs een soort is maar wat ook nie wit is nie
Kleefband asook maskeerband en enige ander sterk band wat ons kan gebruik om die boekies mee vas te plak en te bind
Enige grootte hardeband boekies wat ons kan oortrek met die flas van die kokosneutboom asook met die blare wat hier beskikbaar is
Dekoratiewe en gekleurde papier of selfs papier met prentjies op

Enige iets anders waaraan jy kan dink wat nie genoem is nie!

Dan het Ema my gevra of daar enige iemand is wat vir haar oogskadu en ander mooimaak goedjies kan stuur. Sy het nog net op foto’s gesien hoe dit lyk.

Priscilla weet nie wat dit is om met ‘n pop te kan speel nie en weet ook nie hoe een lyk nie. So ek sal baie graag iemand wil he wat vir haar so iets kan stuur

Josephine is 14 jaar oud en weet ek nie wat kinders van daardie ouderdom benodig nie

Dan indien daar mense is wat ou klere wil skenk vir die mense. Dit kan seepos gestuur word wat die koste sal verlaag, al moet ons nou 3 maande vir dit wag. Soos ek se, Priscilla is 10 jaar oud, Josephine 14 jaar.

Klere vir die mans wat klein gebou is en in ‘n grootte 30 en 32 broek sal pas.

Hulle het so min want baie dinge word hulle hier ontneem en kan hul maar net droom van dit wat ek en jy weggooi.

So enige iets wat jy nie meer gebruik nie, selfs ‘n ou selfoon, sal baie waardeer word. Glo my, ek huil soms in my binneste as ek sien waarmee hulle moet klaarkom, of is dit, nie klaarkom nie.

Toe die sikloon in Maart hierdeur getrek het, het dit miljoene dollar se skade aangerig. Meeste mense wat alles verloor het, bly nou maar by familie of vriende. Die regering het hulp belowe maar die enigste hulp wat hulle gekry het was ’n sak rys vir elkeen aangesien dit die stapelvoedsel hier is. Geen persoon het iets meer of minder ontvang nie. Slegs die sak rys.

Maar laastens wil ek iets met jul deel wat my baie opgewonde gelaat het wat ek net met julle moet deel.

Ek het ‘n afspraak gemaak om die vorige Eerste Minister van Fiji, Meneer Laisenie Qarase te gaan sien oor my idee vir die koffiekroeg in Lomaloma. Hy bly egter nou hier in Mavana nadat hy deur die huidige president afgedank is wat deur middel van ‘n Militere oorname aan bewind gekom het tydens die 2006 staatsgreep. Weet nie of dit enige vrugte sal oplewer nie, maar glo en bid saam met my dat ek hier iets sal kan begin wat nog nooit voorheen op die eiland van gesien of gehoor is nie, en dat hy my dalk in kontak kan bring met persone of organisasies -soos die VN- vir enige geldelike hulp. Ek vertrou dat hy dit sal kan doen en kontak het met sulke persone.

Laastens. Ek het gister met iemand wat sy eie seiljag besit en in ons hawe kom anker gooi het, gesels. Hy dien op een of ander raad vir mense met seiljagte wat hier in die Fiji waters seil. Volgens hom wil die mense nie aan wal kom nie weens die feit dat hier nerens op die eiland eens - soos hy dit noem - ‘n plek is waar hulle net kan sit en ‘n bier of ‘n koppie koffie kan geniet nie. Daarom dat hulle eerder na die ander eilande uitwyk wat meer toeriste-vriendelik is weens die feit dat daar geen sulke geriewe op Vanuabalavu is nie. Volgens hom, sal die plek weer floreer en terugkeer na vorige glorie.

Hier is soveel potensiaal en regtig ‘n geleentheid om geld te maak, maar sonder finansiele hulp sal ek dit nie op my eie kan doen nie. Daarom, toe ek hoor dat mnr Qarase hier in Mavana woon, (ongelukkig is hy nou in Suva tot die einde van Oktober) het ek gese ek moet hom net gaan spreek oor dit wat ek hier wil doen en die boodskap aan sy assistant deurgegee. Hy is dalk die sleutel vir groter dinge hier op die eiland, of dalk die een wat my in kontak kan plaas met mense wat my idee sal kan ‘vat en verder voer’.

So hou saam met my duime vas dat ek regtig hier ‘n verskil sal kan maak en dalk eendag die trotse eienaar kan word van die “Eerste Toeriste Oord en Restaurant” op die eiland van Vanuabalavu. - Sela

Ek sal dit ook baie waardeer indien julle dit met jul vriende kan deel en hul vra om dit op hul Facebook blaaie kan plaas sodat ons almal saam ‘n verskil kan maak. Dit kan net eenmalig wees, of indien daar iemand is wat op ‘n meer gereelde basis goedjies kan deurstuur sal dit opreg waardeer word.

So dank ek elkeen van julle wat saam met my aan hierdie ’upliftment program’ kan werk en ’n sukses daarvan kan maak sodat dit nie net ’n gedagte sal bly nie maar in vervulling sal kan kom.

Baie dankie uit die diepte van my hart.

Groete

Tjaart en al die ander hier op Nabavatu

1 comment:

  1. nou toe ek gaan krap en kyk wat ek vir jou kan pos ou maatjie - jou hart is op die regte plek!!!

    ReplyDelete