23 Augustus 2010
Ons het vroeg opgestaan die oggend, en net na ontbyt wat ons op die boot genuttig het, het ons weer die stywe bult aangedurf. Ek blaas nog soos ‘n stoomlokomotief maar dit gaan al beter. Kort-kort moet ek stop om water te drink, want ek sweet verskriklik en die hitte van die son maak dit nog erger. My klere is sopnat teen die tyd dat ek bo kom en lyk dit of ek uit ‘n swembad geklim het. Hier kan jy nie waag om tweekeer agtermekaar ‘n hemp aan te trek nie! Dit gaan reguit was toe na elke dag se gewoel en werskaf.
In die ‘Homestead’ is Tony besig om alles reg te maak vir my verblyf en om alles gerieflik te maak sodat ek nie te veel van ‘n kultuurskok sal ervaar nie. Intussen ry hy ook op die ‘quad bike’ rond om na die werkverrigtinge erens anders op die eiland om te sien.
John het ‘n graaf saamgebring sodat ons monsters van die grond kan neem wat hy dan in Suva gaan indien vir analisering. Dis alles om te bepaal waar die beste plek gaan wees om Sandalwood aan te plant, asook Teak (verskoon as ek Engelse woorde gebruik, ek kan nie altyd aan die Afrikaanse woorde dink nie). Vyf gate van elk sowat 40cm diep moet gegrou word waarna die volgende 20cm se grond geneem word as monster.
Hy het die eerste gat gegrawe en ek het gewonder of ek hom moet help, maar later ook my deel gedoen en die volgende gat gegrawe. So het ons beurte gemaak maar was van die plekke maar moeilik om te grou omdat die grond hard en soms klipperig was. (Die gedeelte van die eiland het baie vulkaniese rots, en is hier ook baie 'limestone' te vinde). My hand het intussen ‘n blaas gevorm maar het ek steeds aanhou grou. Ek is nie gewoond aan sulke werk nie want ek was ‘n boekhouer van beroep. Maar ek het dit geniet en so tussendeur aan die werkers gedink wat elke dag in die bloedige son moet arbei en besluit ek sal met ‘nuwe oe’ na hulle kyk.
Terug by die huis het ek gou op my foon se internet funksie gegaan om weer eens my status op te dateer. Ek skryf dat hier nie behoorlike internet op ‘Paradise’ is nie waarop Tammy toe antwoord dat mens nie internet nodig het as jy in ‘paradise’ is nie. Maar glo my, as dit die enigste manier is vir kommunikasie met die buitewereld, dan wil jy graag iets he wat vinniger is. Iets wat nie 20 minute neem om op ‘n webtuiste te gaan, of meer as 2 ure neem wanneer jy ‘n foto wil oplaai nie. Maar hier op die eiland is daar net een kommunikasietoring wat aan een diensverskaffer behoort, en afhangende van die weer of wind, het jy nie altyd ‘n sein nie. En as jy nie aan daardie diensverskaffer behoort nie, (soos ek) het jy ook nie altyd toegang tot ‘n sein nie.
Aan huis van Noko en Ema, het ons tee gedrink uit bekers, terwyl hulle dit op die Fijiaanse manier drink - in ‘n kleinerige bakkie. Sy het ook aan ons ‘pannekoek’ gegee om te eet, maar dit het eerder vir my na ‘n klein vetkoekie gelyk en geproe. Nogal lekker, veral as jy honger is na die dag se stappery.
John het klomp vrae aan hulle gevra terwyl Ema meeste van die tyd antwoord aangesien Noko se Engels nie baie goed is nie. Eweskielik uit die bloute se Noko aan my : “Here your wife...., I give you daughter for marry” . Die arme kind het nie geweet hoe om haar verleentheid weg te steek nie, want hier gee haar pa haar so pas weg aan ‘n vreemdeling wat sy nie eens ken nie. Ek het maar net gelag want ek besef sy is nog net ‘n kind en daar is geen manier dat ek met hierdie 14 jarige meisie kan of sal trou nie. Al is dit nou tradisie hier in Fiji om jou dogter so weg te gee, is ek nie deel van dit nie. Genade, ek wil nie ‘n vrou en kind terselfde tyd grootmaak nie! Hahaha.
24 Augustus
My spiere is nie seer soos ek gedink het dit sou wees na al die loop van die afgelope paar dae nie, maar my voete is tog seer en voel dit of my voete nie meer wil oplig nie. Maar ek moet by John kan byhou wat met sy lang bene sulke laaaang tree gee terwyl ek met my ‘stompe’ agterna hardloop. Ons is hoeveel maal die bult op en af, op en af, en skryf ek op Facebook dat ek sekerlik die mooiste bene gaan he na my tyd hier op die eiland. Nie dat ek lelike bene, of sal ek se, kuite het nie, maar ek dink te veel van ‘n goeie ding is ook nie goed nie. En om elke dag ‘Kilimanjaro’ te moet uitklim is ook nie helemal my idee van mooi bene kry nie.
Later toe ek weer toegang tot die internet kry, lees ek almal se kommentaar :
Johan-Jaco se dit word Island-legs genoem. Beautiful to look at but cannot carry you far. (ha, hy ken beslis nie hierdie Suid Afrikaanse boertjie nie! Ek is ‘n nimmereinder! My pa se gene kom deesdae sterk na vore al het ek gedink ek aard meer na my ma)
Nicola skryf : ‘Wolf whistles’
Erika : ‘sounds so worth it’
Ek en John is van die eenkant van die eiland na die anderkant. Hy self erken dat hy nog nie op baie van die gedeeltes was wat ons so bespied nie en dat dit ‘n goeie manier is om sommer die plek te leer ken. Maar elke keer as hy koers inskiet tussen die ruigtes en bosse in, dan bid ek net vir krag en genade, want soms ‘verdwyn’ hy net terwyl ek maar voort ploeter tot ek hom weer iewers kry.
Soms kry ek nie my bene opgelig nie, en moet ek letterlik draaie loop om sodoende nie oor die boomstompe en dinge hoef te klim nie. Menigmaal moes ek myself uit ’n web van ‘n spinnekop vrywaar, want ek is tog te bang een loop hier op my en ek weet nie van dit nie. (lekker ou bangbroek maar gelukkig sien niemand my as ek sulke bokspringe gee om als van my af te skud nie) Van die drade is so sterk, dat wanneer dit breek, dit so ’n ‘ping’ geluid maak, amper soos die snaar van ‘n kitaar.
Gelukkig is hier nie dodelike insekte of gediertes soos skerpioene en gifting slange nie, so mens kan eintlik vrylik rondloop sonder om bang te wees. Die slangspesie wat wel hier op die eiland te vinde is, is gelukkig ook nie giftig nie.
Ons is kort-kort by Koromatua om te kyk hoe die werk vorder en hoeveel olie hulle gepars het. Noko is elke keer so vriendelik as hy my sien en voer my net Vara en is tog te bly as ek nog een wil he wat hy dan vir my uithaal. (Ek dink hy wil my net beindruk sodat ek dit tog sal oorweeg om met sy dogter te trou - hahaha) Die man lyk so verwaarloos en staan sy snor stokstyf na vore, om nie eens te praat van sy tande wat soos ‘sterre’ lyk nie. Nie dat dit so blink nie, maar dat dit so ver uitmekaar is! Shame, lyk my die lewe het hom ook maar nie altyd goed behandel nie, soos baie van die eilandbewoners. As dit nie uitbuiting is van werkgewers nie, dan is dit siklone en storms wat skade aan hul eiendom en landerye doen. Die een sikloon wat die meeste skade hier op die eiland aangerig het, was Tomas. Die het in Maart vanjaar hierdeur getrek en miljoene dollars se skade aangerig. Al wat die regering gedoen het, was om vir elkeen ‘n sakkie rys te gee as vergoeding. Baie is ongelukkig hieroor want hulle het nie die finansies om weer hul lewens op te bou nie, en dit nadat die regering soveel hulp beloof het aan die wat skade gely het.
25 Augustus 2010
Vroeg die oggend is ek en John weer die bult uit tot by die Homestead waar Tony weer besig was om dinge reg te maak. Hy het genoem dat dit dalk goed sal wees as ek die eerste aand hier sou slaap terwyl hulle nog in die hawe vasgeanker is want indien daar probleme opduik, kan hy dit nog die volgende dag kom regmaak voordat hulle weer terug vertrek na Suva. Ek was baie bly want ek wou nie meer op die boot slaap nie. Ek wou ’my eie’ plek he.
Ek het sommer dadelik aan die werk gespring en die kombuis begin skoonmaak asook om al die skottelgoed te was. Ek gaan tog immers hier bly en moet dit mooi, netjies en skoon wees. Tony het genoem dat dit goed is as die huis weer vir ‘n slag ‘spring cleaning’ kry. So tussendeur het ek aan my meubels in die stoor in Suid Afrika gedink en gevisualiseer hoe dit in die huis sou lyk, en hoe dit in ‘Vale Pinky’ sou lyk. (spreek dit uit as Wale Pinky)
Vale Pinky is die huisie in die kokosneutplantasie wat eintlik vir die bestuurder gereserveer is. Dis te oulik en kyk uit in die rigting van al die ander werkers se huisies wat hier ‘Bure’ genoem word (spreek dit uit as boere) Dis egter baie verwaarloos en gaan dit baie kos om reg te maak. Dit staan op houtpilare aangesien dit teen ‘n skuinste gelee is, maar ook sodat die reenwater nie die huis kan instroom as dit reen nie. Dit het ‘n kleinerige balkon, een groot vertrek wat die kombis, eet- en sitkamer insluit. In die een hoek is die stort en toilet, en in die ander hoek is die slaapkamer. Groot genoeg vir al my meubels! (dis nou die meubels in Suid Afrika)
Ek het besluit om aandete voor te berei vir Tony en John voordat hulle die volgende dag vertrek. Dalk kan ek met dit wat ek in die koskas het, vir hulle egte boerekos maak wat hulle nie gou sal vergeet nie. Ek het ‘n heel hoender gestop met rys, uie en boontjies in tamatiesous, en dit in die Weber gebraai. Ek het wortelslaai en Mash potatoes gemaak. Sjoe, ek het behoorlik uitgehaal, maar bietjie gesukkel met die Weber se vuurtjie wat net nie wou brand nie. Maar aan die einde van die dag was die kos gereed, en tesame met John se pastagereg van die middag, het ons behoorlik weggele aan al die kos. Nie soos ek wou gehad het nie, maar hier op die eiland gebruik jy maar wat beskikbaar is.
Tony is weg om op die boot te gaan slaap terwyl John die matras op die solder gaan afhaal het om buite op die stoep te slaap. Hier is dit baie veilig en kan mens nog met al jou deure en vensters oopslaap in die nag. Maar komende van Suid Afrika, kan ek nog nie aan daardie idee gewoond raak nie en maak ek als vroegaand al toe. Hier is 6 deure wat op die stoep oopmaak, en wanneer die eienaars hier is, word hulle nooit toegemaak nie omdat dit glo baie veilig is.
ag ek lees so lekker!
ReplyDelete