Wednesday, September 1, 2010

My eerste dag op die eiland

Die oggend vroeg het ek opgestaan na ons op die boot oornag het. Tony is al vroeg op en aan die gang en is boontoe met die ‘quad bike’. Willy het vuur gemaak iewers in die bos om van die vuilgoed te verbrand. Ek het paar foto’s gaan neem en gewag dat John moet opstaan sodat ons aan die gang kon kom. Ek is immers nou hier en wou met alle mag en geweld begin met my werk.

Ons het die bult begin uitstap na die ’Homestead’ daar bo. Ek het soos ’n stoomenjin geblaas en kort-kort moes ek water drink aangesien ek ook nog sopnat was van die sweet. John het so fiks voorgekom en kon ek hom nie hoor ’stook’ nie. Groot was my verbasing toe ek wel by hom kom en hoor dat hy ook blaas van moegheid. Dit het my sommer weer moed gegee om verder te stap.
Die uitsig van bo was net so ongelooflik mooi en skryf ek op Facebook : ''Al wat ek kan se is WOW!'' Later het Anne-Marie hierop gereageer deur te se : ‘watching the space in anticipation’.

Ek en John is af na die village van Nabavatu waar ons die kinders van Sitima en Ema gekry het. Die oudste dogter van 14 jaar is nogal mooi, maar sy het glo met die vorige bestuurder, weggeloop om saam met hom te gaan bly. Hy was ’n getroude man en is later deur Tony afgedank. Weens sy seksuele aktiwiteite met die kind, het hy in die tronk beland. Sy vrou was glo verslae, maar het toe haar werk hier bedank om hom in Suva waar hy in die tronk is, te gaan ondersteun. Ai, die wel en wee van die mensdom darem!

Ons is na Koromatua wat die plek is waar die werkers die kokosneute bewerk en verwerk. Ek het almal daar ontmoet - Avinash, Tirovi, Para, Misa junior, Ema en Noko (sy doopnaam is Sitima) Almal het vriendelik gegroet en het ek gekyk hoe Para eerstens die kokosneut se beskermde buitelaag afhaal deur dit op ’n skerp voorwerp te kap en so al in die rondte te beweeg totdat die klapperhaar en dop verwyder is om by die ronde neut uit te kom. Daarna het Avinash die kokosneut oopgebreek deur dit met ’n panga te kap terwyl hy dit in sy hand vashou. Hy moet ’n geoefende hand he want een miskap, en sy hand is af.

Dan neem Noko en Misa die oopgebreekte neut en ‘grind’ dit, sodat dit lyk soos die wat ons tuis in pakkies koop. Maar dan word bakke vol van die fyn kokosneutvleis eers geweeg deur Tarovi en aan die bopunt van die warmplaat uitgegooi vanwaar Ema dit oopsprei. Op die plaat is daar reeds paar oopgespreide hope wat sy kort-kort omdolwe en weer oopsprei sodat die hitte eweredig kan versprei. Aan die bopunt van die plaat is dit baie warm aangesien Ema hier die vuur stook vir die oond. Dit moet sowat ‘n halfuur op die warmplaat ‘droog’ vanwaar dit dan deur Tarovi in ’n buis met klein gaatjies gegooi word. Die word dan deur hom gepars met ’n hidroliese handpars wat al die olie na buite forseer. Dit word opgevang in ’n emmertjie en geweeg en word die gewig opgeskryf. Die saamgeparste kokosneutskraapsels word dan ook geweeg en word die gewig ook neergeskryf (dit word na die tyd aan die varke gegee as voer. En glo my, hulle is koelrond van vetgeid)

Indien die neute Vara bevat (sal nou vertel wat dit is) is die olie-inhoud ligter, maar indien dit nie Vara bevat nie, is die gewig van die olie swaarder en is die kwaliteit ook beter en helderder, en meer deursigtig. Elke liter word dan in ‘n 25 liter emmer gegooi. Dit word dan toegemaak en eenkant gehou totdat Tony weer met sy boot na die eiland kom om dit weer na Suva te neem waar dit dan deur hom en sy vrou gebottel en verpak word. Elke dag word sowat 20 tot 30 liter olie verwerk, afhangende hoeveel neute elke Maandag bymekaar gemaak is.

Nou omtrent die Vara. Wanneer ‘n kokosneut te lank op die grond le, begin aan die binnekant van die neut iets te groei wat Vara genoem word. (dis eintlik die saad binne-in die neut) Dis heerlik om te eet en is soms soet afhangende van hoe groot dit is. Indien dit baie groot is, is dit nie so lekker soet nie maar steeds eetbaar. Dit het ’n effense anderse smaak, en is ook sponsagtig in tekstuur en is die buitekant effens olierig.

Om te groei, neem dit van die olie uit die neut. Dit hou aan met groei totdat dit groot is en deur ’n klein ronde opening in die neut druk om dan nuwe blare en eindelik ‘n stam te vorm. Uit die ander 3 gaatjies kom weer wortels tevoorskyn wat dan in die grond vaspen en verder groei.

Ek en John het toe oral op die eiland geloop sodat hy my al die plekke kon wys. Ons is na die uitkykpunt van die ‘Bay of Islands’ vanwaar jy ‘n ongelooflike mooi uitsig het oor die aantal eilande in die baai asook ander eilande in die omgewing wat Mago insluit (spreek dit uit as Mango) wat aan Mel Gibson behoort wat hy so paar jaar gelede vir 15 miljoen USDollars gekoop het.

My bene wou later net nie meer nie, maar het ek bly loop om al die mooi plekke te sien. Ons is op en af, dwars en kruis oor die eiland, weer af na die boot en weer op en weer af. Dit het behoorlik gevoel of ek Tafelberg, of soos ek op my Facebook skryf - Kilomanjaro uitklim.

Die middag laat is ons terug boot toe waar Tony toe reeds in die water geduik het om af te koel teen die bloedige hitte. Ek het gaan le en as verskoning gebruik dat ek ‘n hoofpyn het aangesien hulle ook wou he ek in die see moes spring om af te koel. (min weet hulle dat ek eintlik nie goed kan swem nie en ek liefs grond onder my voete wil voel - hahaha. Ek hoop om hier maar te leer swem aangesien ek nie van dit sal kan wegkom nie)

1 comment:

  1. swem jannie swem ;-)
    klink soos survivor met al die coconuts

    ReplyDelete