Monday, September 27, 2010

Dankie tog vir die Salsa

Die huisie waarin die Khumar's bly

Ek is vanoggend saam met Avinash na sy ouers wat op die Adavaci eiland woonagtig is. Die eiland is so te se teenaan Vanuabalavu en behoort aan ‘n Japanese sakeman wat na verneem word, die plek wil verkoop. Wanneer dit hoogwater is, moet jy die boot neem tot by sy ouers, maar indien dit laagwater is kan jy die paar honderd meter deur die vlakwater soontoe stap, met die bult op tot bo, en anderkant af. ‘n Stywe ent om te stap, maar goed vir die bloedsomloop en ‘n goeie manier om fiks te word. Maar vandag ry ons met die bootjie en neem ek weereens net foto’s so ver ons vaar. Dis regtig mooi, veral die gedeelte waar sy ouers bly aangesien dit teen die see is en daar ‘n baie mooi wit strand is wat so te se reg rondom strek. Palmbome is oral te sien aan die agterkant van die armoedige huisie en lyk dit so idillies en kan ek myself net sien met ‘n praghuis hier op die strand, en met die kobaltblou en turquiose water so in die verte.

Aan die oorkant van waar Aninash se ouers se huis is, is ook ‘n baie klein eilandjie waarvan die hoogste punt sowat 21 meter bo seevlak is. Mens kan sien dat die eiland eeue gelede gevorm is deur lawa wat uit die see opgestoot het. Tussen die gesmelte swart rots is ook skulpe en dolomietsteen te sien wat saam met die lawa opgepers is. Ek sal nie omgee om ‘n huisie reg bo te kon he nie want die uitsig is ongelooflik mooi. Maar nou ja, ek sal seker ‘n miljoen of twee moet uithaal as ek dit wil besit.

Ons het op die strand aangekom en sy pa, ma, sussie en haar dogtertjie het my verwelkom. Dit lyk onsettend armoedig en het sy ma haar beste klere uitgehaal vir die ontmoeting met my. Sy pa lyk soos ‘n boemelaar met sulke olierige hare en het hy ‘n voet wat groot opgeswel is met ‘n toegegroeide wond wat regoor sy voet strek. Hy lag hardop en verwelkom my by hulle en nooi my om die res van die familie en vriende te ontmoet.

Ag Here, dink ek, waarin het ek my begewe? Dis so vuil hier en onsettend armoedig en nou is ek ook nog hier vir ete! Wat het my besiel om ja te se vir die uitnodiging?

Ek groet almal met die hand en wys hulle my dat ek die ereplek het om in die hoek te sit. Maar voordat ek my sitplek kon inneem gewaar ek dat die vrouens praat oor my kamera en giggel soos bakvissies aan die buitekant. Die sussie en Avinash se ma druk hul hare in posisie en kyk met sulke verlangende oe na my, so asof hulle wil se, ‘ag kyk tog, en neem net ‘n foto van ons’! Avinash vra dat ek foto’s sal neem en dadelik is hulle gereed vir die okkasie en is ons na die voorkant van die huis. Almal staan sommer net op ’n plek, maar wys ek dat hulle eerder langs die Hibiscusbome moet staan aangesien daar blomme aan is en dit ‘n mooier foto sal maak as net die barre landskap voor die huis. Almal ‘pose’ vir die foto’s en neem ek heelwat meer van die klein dogtertjie wat vir my te dierbaar is. Ook wil hulle weet of ek die foto’s tog aan hulle sal gee waarop ek antwoord dat wanneer ek in Suva is, ek die foto’s sal laat ontwikkel en aan hulle bring.

Intussen gewaar ek iemand by die deur van die huis uitloer en vra wie dit is. Avinash se ma noem dat dit die ander sussie is maar dat sy lam in die bene is en nie kan loop nie en nooit die huis verlaat nie. Met sulke groot oe staar sy my aan en groet ek haar met die hand. Sy gesels land en sand en maak volgens my net geluide, maar hier en daar verstaan ek tog iets en lag net saam. Vir haar seker die grootste oomblik van haar lewe dat iemand soveel aandag aan haar gee, en dit van ‘n vreemde witman.

Die huisie is klein waarin die hele Khumar familie bly. Aan die agterkant is ‘n kombuisie met ‘n tafel en twee bankies aan weerskante om op te sit, asook ‘n wasbak en en kleiner tafeltjie waarop die kos voorberei word. Die ‘Lovo’ (‘n gat in die grond wat gebruik word as stoof) is in ‘n nog kleiner vertrekkie agter die kombuis. Tussen die huis en kombuis is ‘n afdak opgesit wat dien as die vergaderplek, met ‘n mat om op te sit gemaak van palmtakblare. Met my skoene uitgetrek en buite gelaat (soos tradisie is hier in Fiji wanneer jy ‘n huis binnegaan), is ek na die oorkantste hoek waar ek moet sit met gekruisde bene. Dit is soms moeilik om die hele tyd so te moet sit omdat ek dit nie gewoond is nie en lig ek maar kort-kort my bene vir beter bloedsirkulasie. Maar almal hier in Fiji sit so en laat dit my soms dink aan een of ander yoga posisie wat ek nog nie bemeester het nie.

Almal staar na my in verwondering en sommer dadelik is ek gevra of ek saam met hulle sal Kava drink. Ek stem in en lag almal hartlik saam toe ek die eerste koppetjie van die sogenaamde 'Fijian Whiskey' afsluk. Almal klap hande en se ‘Mothe’. Avinash het in die niet verdwyn en voel ek soos ‘n vreemdeling (wel ek is) tussen al die vreemde gesigte wat my so aanstaar en vraag op vraag vra. Ek sou wou he dat hy naby my moet wees want ten minste voel ek dan nie soos ‘n vreemdeling nie.

Aan my regterkant sit die familievriend Ilesoni, en Jojo die pa van Avinash. Hy lag kort-kort kliphard en vryf so oor sy boeppens wat blink in die lig wat van buite op hom skyn. Sy hare is toiingrig en uiters vuil, en is sy naels net so vuil, om nie eens van sy voete te praat nie. Elke keer as hy so uit sy maag lag, sien jy net vier massiewe groot bruin ‘slagtande’, amper soos die van ‘n luiperd s‘n. Elk is sowat 2cm lank (het intussen gesien dis heelwat langer) en indien hy sy mond heeltemal wil oopmaak, kan daar steeds niks verby die tande kom nie omdat dit so lank is. Die boonste tande slyp vooraan teen die onderstes en is dit al afgeslyp in die proses en lyk vir my vlymskerp. Heeltyd dink ek net hoe ek dit aan almal by die huis gaan verduidelik, en soek na ’n geleentheid om hom te kan afneem met hierdie geelbruin ‘slagtande‘. Die kere wat ek wel foto’s kon neem, was sy mond toe, of wou hy nie lag nie. Langs hom op die trappie wat lei na die huis en slaapgedeelte, sit die ouma wat te dierbaar is. Sy het glo 15 jaar in Amerika by haar seun gewoon maar besluit om terug te kom Fiji toe waar dit nie so koud is nie, en beslis nie sneeu nie. ‘n Regte Indiese tannie sou ek se, en wat my aan my oorlede tannie Moira laat dink. Dan by die deur sit Avinash se broer en kap kort-kort met die panga na iets wat net hy sal weet. Hy is so maer en lyk ook vuil met sy eil haartjies wat so aan die agterkant in paar vlegseltjies hang. Hy kan nogal na iets betaamliks lyk as hy net ‘n goeie skrop met ‘n borsel kan kry. Dit lyk so asof niks of niemand hom al ooit in die lewe leed aangedoen het nie, so asof daar geen bekommernis in sy lewe is nie. Hy bestaan maar net van dag tot dag, en sal seker so leef tot hy eendag omkap, so asof hy geen behoefte het om ooit sy lewensstyl hoef te verbeter nie.

Langs hom aan die oorkant van my, sit Para wat weer die eer het om die Kava te maak. Elke keer as hy met sy hande die sakkie Kava in die water druk en uitspoel, druk en weer uitspoel, dan gril ek tot in my kleintoontjie want ek weet hoe sy naels lyk en sien in my geestesoog hoe die vuilheid in die water agterbly. Hy is een van die werkers op die plantasie en lyk nou behoorlik soos een van Johannesburg se agterstraat boemelaars. Geen tande in die mond, met lang kroeshaartjies wat in alle rigtings in duiwel en ‘n ongeskeerde baard soos die van ‘n ryk Hotnot - soos my pa altyd sou se van iemand met so ‘n ietsie-bietsie-baard. Sy oe lyk bloedbelope en het hy ‘n soekie-soekie in sy mond. (soekie-soekie is ’n dun sigaret van omtrent 15cm wat hulle self draai in koerantpapier)

Aan my linkerkant sit ’n man wat vreeslik baie praat en sy Engels is ook baie beter as al die ander. Hy het soveel bitterheid teenoor die witman, maar meer teenoor die Britte wat jare gelede hulle grond van hul afgeneem het. Volgens hom (en dis ook so in die argiewe opgeteken) is die eiland vanwaar hy kom, op ’n oneerlike wyse van hul weggeneem deur twee Britte wat die hoofman te veel drank ingegee het om te drink en hom toe sover gekry het om sy duimafdruk op ’n voorafopgestelde dokument te plaas waarin hy die eiland aan die Britse Regering afstaan. Maar ons gesels lekker en noem ek ook aan hulle dat ek in die proses is om ’n boek uit te gee met foto’s van die eiland en sy mense. Ook dat ek hulle familie wil gebruik om foto’s van te neem vir die boek, en sodoende hulle finansieel kan help indien die boek sou verkoop. Almal is opgewonde daaroor en stem in dat ek foto’s van hulle kan neem.

Intussen is die kos gereed en is ek na die kombuis saam met almal waar hulle eerstens ’n gebed doen. Almal se amen en paar gaan sit aan tafel terwyl die ander mans uitloop om verder Kava te gaan drink. Dis ek, Ilesoni, die ouma, Avinash en sy boetie wat aan tafel sit terwyl die ma skuins agter Avinash staan, en die sussie langs my staan om al die vliee van die kos weg te waai met haar lappie. Ek word vandag met die beste bedien maar gril ek vir dit wat voor my is terwyl ek my ‘pose’ hou om nie aanstoot te gee nie. Die vliee kom sit oral en gil die ma met tye aan die sussie om te kyk dat dit nie op my kos en teekoppie kom sit nie. Maar die het net oe vir my en glimlag en giggel kort-kort as ek na haar kyk.

'n Heerlike ete - 'Fijian style'


Daar is gebakte vis wat ‘n meellagie om het wat in coconut olie gebak is. Nogal lekker, maar net te droog gebak. Dan heel vis wat in cococut melk gekook is en waarvan die oe en tande na my staar en lyk of dit enige oomblik op my kan spring. Die vinne is nie eens afgesny nie en word dit afgesuig met die vreeslikste slurpgeluide! Ook salsa - waarvan ek omtrent die hele bak van opgeeet het - Roti, groen papaja wat in coconutmelk gekook is en ander vreemde kosse wat ek nie ken nie. Ek eet maar stadig en langtand aan die kos, en kort-kort word nog ‘n bakkie met kos voor my gesit. Ilesoni lag terwyl die sous so van sy mond afloop en hy kort-kort met die vadoek sy mond en hande afvee terwyl al die ander ook suig aan die visbene en grate wat in hul bord is. Wanneer dit afgesuig is, gooi hulle dit op ‘n bord langs hulle en kom die vliee by hul hordes om verder te smul. Sussie waai verwoed en maak haar ma haar elke keer daarop attent dat sy my nie moet raakslaan as sy so waai nie. Ek gril vir elke geluid wat die kombuis vul en vat met elke happie kos ‘n lepel vol van die salsa. Ten minste is dit vir my heerlik en is dit duidelik dat die Indiese invloed tog hier na vore kom. Die familie is egter van Indiese afkoms.

Ek bedank Aninash se ma vir die heerlike kos en beloof sy om vir my ‘n kospakkie in te sit wat ek die aand kan geniet wanneer ek tuis is. Ek glimlag en se dankie, maar in my hart wens ek dat sy dit nie sal doen nie, want die Here alleen weet hoe het ek tydens die maal so in my gedagtes gebid het om die kos in my lyf te kry. Was dit nie vir die salsa nie, sou ek seker skandes gemaak het.

Terwyl ek weer my plek inneem in die hoek van die sitvertrek, het die ander klomp gaan eet. Kort-kort hoor jy die vreeslikste geluide uit die vertrek langsaan van mense wat winde opbreek. Eindelik kom Avninash se pa uit die kombuis en kom le hy weer op sy plek. Hy het soveel geeet dat sy maag blink en rond by die oopgeknoopte hemp uitsteek. Genade, dink ek, wat ‘n transformasie! Kan iemand se maag so uitstoot van kos, wonder ek. Wel dis duidelik want hier sien ek dit voor my eie oe. Hy vryf kort-kort oor sy maag en vertel dat hy baie lekker geeet het terwyl hy winde opbring wat enige leeu sal laat pis van skrik. Avinash se ma vra kort-kort verskoning vir sy gedrag terwyl ander ook hul brul by die van Jojo voeg. Here van Genade, dink ek, en dan wil ek ‘n jaar by hierdie mense bly?


Jojo, Avinash se pa

Ek en Avinash se ma gesels lekker so tussendeur wanneer sy ook ‘n kansie het om iets te se. Intussen se almal net vir my om nie na Ilesoni te luister nie want : ‘Only bullshit talk’ terwyl ander ook weer byvoeg en se : Yes, only bullshit, bullshit talk. Dan lag hy uit sy maag en vra of ek nog tee wil he. Ek voel om weg te hardloop, maar sit en luister na die ‘bullshit talk’ van Ilesoni wat my nooi vir die volgende week se vadersdagete. Volgens hom, gaan hy ook weer hier wees vir ete waarop Avinash se ma en pa lag en se : ‘Only bullshit talk, he not come, only bullshit.’ Dan lag hy uit sy maag en vra weer of ek nog tee wil he.

Later het ek gaan stap nadat Jojo my toestemming gegee het om op die eiendom te loop. Met my kamera in die hand het ek en Avinash en die klein dogtertjie langs die see gaan stap terwyl ek foto’s van hulle en die natuurskoon neem. Wat ‘n romantiese toneel, as jy net die regte persoon het om dit met jou te kan deel.

Terug by die huis het ek gegroet en hulle bedank vir die heerlike ete en belowe om die volgende week weer te kom kuier. Sy ma het intussen vir my die pakkie opgemaak met kos vir die aand se ete. Al wat deur my gedagtes maal is dat die volgende Sondag tog nie moet aanbreek nie want daar is beloof om spesiaal vir my ‘n Kerrie-varkgereg te maak, iets wat ek glo baie van gaan hou.

Ek en Avinash en Para is op die bootjie oppad terug na ‘ons’ eiland terwyl almal op die strand staan en vir ons totsiens wuif.

Die aand nadat ek van die village af terugstap oppad na die 'homestead', en die bult so opstap, was dit wat my inwag net so oorweldigend. Honderde swaeltjies het gevlieg en getjirp en hul ‘vliegdanse’ uitgevoer hier op die grasperk van die huis. Dit was so ongelooflik mooi en het ek nog nooit so iets ervaar nie en net in verwondering kon staan en kyk hoe hulle so sorgeloos vlieg en die aand se koel lug geniet.

3 comments:

  1. hou van jou nuwe background - gits ek het nou so gelag en het gedink aan jou Indie trippie ;-)

    ReplyDelete
  2. Uiteindelik mag hierdie mense selfs onder jou vel inkruip ... Maar ai, om tot op daardie punt te kom!

    ReplyDelete
  3. Thanks for sharing all those stories with us! It really made me laugh how you tried to pictures the man with the tusks!!!

    ReplyDelete