Tuesday, September 7, 2010

My eerste kennismaking met Kava

Baie oggende, en selfs in die aande word daar tee gedrink met ’n paar ontbytkoekies daarby wat soortgelyk is as ons Cream Crackers tuis. Dis net effe kleiner en ietwat dikker. Dit word dan in die bakkie met tee geweek tot sag en dan geeet. Soms is dit ook die enigste kos wat hulle eet, maar volgens die klomp hier, is dit wat meeste Fijiane eet. Shame, ook maar nie geld om ander kos te koop nie. G’n wonder van hulle lyk ondervoed nie maar is dit dalk ook die rede hoekom ek paar kilo’s afgeskud het. Nie dat ek klae nie, inteendeel ek wil nog so paar kan afskud!

Na ek die weeklikse salarisse betaal het, en almal hul aankope in die ‘Sometime Store’ gedoen het (so genoem want somtyds is dit oop, somtyds nie), is ek boontoe waar ek bly. Hulle het my genooi om later die aand ‘Kava’ te kom drink. Dit is ook beter bekend as ‘Yoqona’ of ‘Grog’ en is dit my eerste kennismaking met die welbesproke drank. Ek is nogal opgewonde oor die feit dat ek ook deel kan wees van hierdie tradisionele seremonie. Min wetende wat eintlik op my wag.

Yoqona (Piper methysticum) is ‘n tipe peperplant en het ‘n eerbare plek in die kultuur en tradisie van die Fijiaanse volk. In die vroeere jare is dit slegs deur die Hoofde (chiefs) en Priesters gedrink, maar deesdae word dit deur almal gedrink.
Om Kava of ‘Grog’ soos hulle dit ook noem, te drink, is eintlik ‘n manier om besoekers te verwelkom en om met mense te ‘bond’. Dan word daar stories vertel en ook sommer net gesels om die tyd te verdryf terwyl elke nou en dan ’n bakkie (wat ’n halwe dopgedeelte is van die Kokosneut) gevul en aan elkeen gegee word om te drink. Eerstens aan die besoekers, en dan die Chief of die oudste persoon.

Wanneer jy genooi word deur die ‘Village Chief’ vir ‘n Kavaseremonie, is daar sekere protokol wat gevolg moet word. Almal sit in ‘n sirkel met hul bene gekruis en moet jy in die rigting van die Hoof (chief) kyk asook die ’Tanoa’ wat die groot houtbak is waarin die Kava gemaak word. Jy mag nooit deur die sirkel na die oorkant loop nie, of jou rug op die houtbak draai, of jou tone na die bak wys nie. Baie maal sal daar ‘n tou aan die houtbak vasgemaak wees met ’n groot wit skulp aan die anderkant. Dit verteenwoordig die skakel met die geeste. Gelukkig was hier nie so iets nie, net die geselligheid.

Hier aan't huis van Misa en Maria is almal net opgewonde om weer ‘Grog’ te drink en my te verwelkom. Almal sit op die voorstoep op die grond in ‘n kring, terwyl Misa aan die bo-punt sit met die bak waarin die Kava gemaak word. Die gedroogde wortel van die plant word verpoeier en in ’n klein sakkie gegooi. ’n Beker koue water word in die bak gegooi en die sakkie met droe bestandele word daarin geplaas en met die hande bewerk en die vloeistof uitgedruk, en dan weer in die water gedruk en bewerk en weer uitgedruk. So word dit bewerk tot die verlangde sterkte en word die vloeistof, wat soos grys modderwater lyk, se kleur bekyk. Indien dit donker van kleur is, is dit te sterk en word nog water bygevoeg. In my oe is ‘modderwater maar modderwater’, Wat my pla is die feit dat dit deur iemand met kaalhande bewerk word, en in hierdie geval die van Misa. Is sy hande skoon, wonder ek.
Baie jare gelede was dit die voorreg van maagde om kava te kou en met hul tande te brei en dan in die son gelaat om te droog sodat dit maklik verpoeier kon word.

Die klein bakkie word gevul en aan my gegee. Almal se ’Bula’ wat eintlik ’Cheers’ of ’lewe’ beteken. Dis ook hul wyse van groet ’Bula’. Aangesien ek nie hul tradisies ken nie, was ek veronderstel om eenkeer met my hande te klap en dit dan te drink. Dis veronderstel om in eenslag gedrink te word, maar ek kan nie so vinnig drink nie en vat so paar slukke van hierdie peperige modderwater. Almal het iets te se in Fijiaans en ek is veronderstel om 3 maal met my hande te klap om dankie te se. Ek het sommer dadelik die newe effek gevoel van my tong wat voel of dit leweloos is, maar was dit ook net vir ‘n kort tydjie. Te veel van die drank kan veroorsaak dat jy lighoofdig voel asook die lewelose gevoel in jou tong en lippe. 'n Oormaat van die sterk drank kan ook veroorsaak dat jou vel begin afdop of skilfer en wat genoem word ‘Kanikani’ (nogal gepas sou ek se want jy kan nie te veel van dit drink nie)

Na elkeen sy bakkie met Kava gedrink het, sing hulle op begeleiding van die ghitaar asook met ‘n baie kleiner weergawe van die ghitaar. Moet se, die musiek is so mooi en het ek die sang regtig geniet en het hulle selfs my gunsteling liedjie gesing ‘LomaLoma’ (google die naam en dan hoor jy die liedjie en sien jy sommer hoe Lomaloma lyk, die grootste village hier op die eiland van Vanuabalavu). Maar dis ook omtrent al, want ek kan nie veel se van Kava nie, of soos hulle spottenderwys daarna verwys - ‘Fijian Whiskey’.

Ek skryf op my Facebook : Die musiek was great maar die drank OMG - Fijian Whiskey - lyk dieselfde as modderwater en proe ook so maar met ‘n ‘dash of pepper’ - maak jou tong ‘numb’ - Het ses koppies gehad maar nie dronk daarvan geword nie. Para het al met die tweede koppietjie dronk gelyk.

Anton skryf : You’re a brave man
Ek antwoord dat as mens in Rome is maak jy soos die Romeine
Anton se dat die warriors van ouds dit gedrink het en dis duidelik dat dit my baie moed gee. (ja seker, maar mens moet tog eers die eerste sluk neem voordat die 'brave-geid' posvat)
Tammy : ‘Rather you than me‘. Ek weet hulle se ‘try everything once‘, maar vir my is daar ‘a line - not a fine line! A thick prominent unbroken line‘.
Tania : Klink na pret

1 comment:

  1. o hel Tap - dit klink na pret!!! ;-) ek kan nog steeds nie glo ons praat met mekaar en ek sit hier en jy sit daar doer in die gramadoelas ;-)

    ReplyDelete