Wednesday, November 17, 2010

Kos & die Koei in die stort

Avinash het my weer genooi vir ete by sy ouers. Ek wou eers nie instem om te gaan nie, maar omdat hy die vorige dag ’n groot Kokosneutkrap gevang het, het hy gese sy ma sal dit spesiaal vir my voorberei dat ek haar heerlike krapkerriegereg kan proe. Wel het ek gedink, ek het niks om te verloor nie want ek het nou al Ema se krapgereg geeet, en dalk is hierdie lekkerder of dalk hoe dit gaargemaak moet word.
Ons het die tog oor die eiland aangepak en het dit gly-gly gegaan omdat dit die vorige nag gereen het en die paadjie maar nat en glyerig is. Sy ouers was opgewonde om my weer te sien en het sy ma sommer dadelik vir my gese sy gaan spesiaal vir my die krapgereg maak, maar dat sy ook ‘Songe’ kerrie vir my gemaak het. Songe is ‘n groot bosduif wat hulle in ‘n wip vang en dan gaarmaak. Maar daar is na my mening ook nie veel vleis aan die bosduif nie, veral as jy nie soos hulle alles afsuig en selfs die bene kou nie.

Ek het heelwat foto’s van sy ma en sussie geneem waar hulle in die kombuis werksaam was. Elke keer as ek met die kamera fokus na iets, dan kom die sussie nader geloop om ook in die foto te wees. Ek het later maar ‘n hele klomp van haar geneem net sodat sy tevrede kan wees en ek rustig op my eie aangaan en foto’s neem sonder mense daarin.

Soos gewoonlik het ek die meeste opskepbakke met kos voor my gehad. Alles is aan die kant geplaas waar ek sou sit terwyl hulle elkeen ‘n klein bakkie met kos voor hulle het. Maar vandag is ek gevra om ‘n gebed te doen voor ons sou eet. Ek was helemal uit die veld geslaan maar het my gebed in Engels gedoen en ook die Hemelse Vader gevra om die huis te seen en in al hul behoeftes te voorsien. Almal het amen gese en weggeval om te eet, terwyl sussie weer eens langs my kom staan met die handwaaier om al die vliee van my weg te hou. Kort-kort vra iemand : ‘Nice, you like it?’ of : ‘Nice, have some more,’ terwyl my bord nog vol kos is. Sodra dit lyk of iets in my bord klaar geeet is, dan word die volgende bak voor my gesit om nog in te skep.



Na ete is ek en Masi, die broer van Avinash, na sy groentetuin teen die hange van die heuwel. Hy lyk vandag heel skaflik en kon ek nie glo dis dieselfde persoon wat ek paar dae gelede gesien het nie. Selfs ek het gedink ek sal graag met hom wil gesels en beter leer ken, maar sy ma is bekommerd dat ek niks sal verstaan wat Masi se nie, omdat hy nie Engels magtig is nie. Sy het gese hy wil my sy tuin gaan wys maar dat hy nie met my Engels kan praat nie. Ek het gese dis geen probleem nie, ek praat sommer vingertaal. Hy het vooraan gestap en my al die Sjinese kool gewys wat verlep in die son staan, daarna die komkommers, die tamatieplante en die Kasawa. Hy het iets probeer vra in Engels en ek het maar ja gese. Toe wys hy my ek moet hom volg. Hoer op teen die bult is ons, onderdeur struike en bo-oor stompe, tot by sy volgende tuin. Ek was uitasem toe ek daar aankom en moes maar maak of ek opgewonde is oor sy tuin terwyl ek hyg na my asem. Shame, hy het ook nie iets anders as tuinmaak en visvang wat hom besig hou nie. Volgens wat ek van ander verneem het, het hy 4 jaar in die tronk spandeer vir huisbraak hier op ons plantasie, en daarom dat hy nerens heen gaan nie. Nie dat daar enigsins iets op die eiland aangaan of waarheen hy kan gaan nie, maar hy is meer as tevrede om op die grond te le, of iewers te sit en in die vertes te staar, of sommer net ‘n deuntjie te neurie.

Nadat ek nog so rukkie daar gekuier het, het die ander kuiergaste gese hulle is gereed om te vertrek en sou my en Avinash sommer gaan aflaai en terselfde tyd hul kinders oplaai wat op dieselfde plek sou wag. Ons het gegroet en is die stywe bult op na Nabavatu.

Skaars het ons in die village aangekom toe Ema my die nuus meedeel dat ‘n koei gedurende die dag in hul stort ingebars het om uit die wasbak water te drink. Die koei was egter te groot vir die deur en het die raamwerk beskadig, en het die wasbak in skerwe geval nadat sy uit dit wou drink. Die water het egter soos ‘n fontein by die pyp uitgespuit en moes Noko vinnig plan maak om dit te stop. Ai, die arme mense, want reeds is die klein badkamertjie sonder ‘n dak, en nou nog dit ook.

 

Thursday, November 11, 2010

13 September 2010


Gedurende die nag het ek wakker geword van geraas in die kombuis. Ek het versigitg opgestaan en my flitslig aangeskakel om ondersoek te gaan instel. In een van die muisvalle het ek die gemene tietdief gesien wat ‘n paar nagte tevore die tietiebottel se speen gesteel het. 

Aah, jou klein bliksempie het ek gedink, nou sal ons sien hoe jy hier gaan loskom. Maar terwyl ek met die flitslig in die kombuis loop, vang die kant van my oog ‘n groot skaduwee! Daar teen die muur sit die allergrootste spinnekop wat vir my omtrent na dieselfde grootte lyk as die muis! Ek kan nie dink dat ek nog ooit so groot spinnekop gesien het nie en het dadelik kamer toe gestap en my deur toegemaak en in die bed gaan klim.

Ek skryf op Facebook die volgende : Last night I managed to catch the 'teet thieve' in a glue trap. With my torch I looked up to the ceiling to see a spider bigger than that mouse! OMG, I went straight to my bedroom and locked my door!

Elrina Pretorius : whahahahah ... wens ek kan n vlieg teen jou kamermuur wees, ‘n brommer sal ook werk. Dit is skreeu snaaks !

Erika Horn : I would have died!

Nicola De Gouveia : I think you are just doing some bad advertising here so that we don't all descend on you for a visit - what's with the rats and spiders! ;D

Lizbè de Bruyn : Hoe lekker laat jy my nou giggel!

  Na ek vanoggend almal se pligte aan elkeen verduidelik het, het ek in my hart ervaar dat dinge nie wel is nie. Maar niemand wou my sê wat fout is nie. Almal is weg na hul onderskeie werksplekke. Die middag na werk is ek egter na Misa en Maria om uit te vind wat aan die gang is. En toe kom die hele sak patats na vore.

Misa junior was ongelukkig dat ek nie ook vir Avinash gesê het om kokosneute aan te dra nie, maar dat ek hom ‘n ligter taak aangebied het om te doen. Volgens Misa senior moet die sterk jong manne saam werk en dieselfde taak verrig.

Maar net vanoggend het ek Misa junior en Torovi gevind waar hulle wegkruip agter ‘n skuiling. Volgens junior het hulle net gou tee kom drink by die huis en sal vinnig wees en hul pligte vervat waarop ek geantwoord het dat dit nie regverdig is teenoor die ander werkende personeel nie. Min het ek geweet dat hulle niks sou doen vir die dag nie en by Misa senior en Maria sou sit en kuier onder die bome.

Senior het aan my verduidelik dat hulle almal besluit het om maar liewer te gaan aangesien hulle nie met Noko en Ema oor die weg kan kom nie. En dit het ek van dag een af ervaar aangesien hulle twee groepe Fijiane is waarvan Noko van Indiese afkoms is. En dis ‘n jarelange stryd in Fiji en ‘n baie teerpunt in hul geskiedenis. Die Indiers is baie hardwerkend en het meeste van hulle hul eie besighede, maar mag hulle geen land besit nie, terwyl die ander groep inheemse Fijiane is wat lui is en nie veel wil doen nie maar op die regering staatmaak vir hulp, en terselfde tyd ook al die regte van die land geniet.

In my hart was ek bly dat hulle wou weggaan en het nie veel gedoen om hulle te wil keer nie. Hulle almal is lui en gee altyd voor hulle het baie kokosneute bymekaar gemaak terwyl dit nooit die geval is nie. Elke keer as hulle aan my ‘n getal gee van hoeveel neute hulle bymekaar gemaak het, het Aviniash aan my kom se dat dit nie so is nie. Hy is goed met sy skattings en kan gou se hoeveel neute daar in ‘n hoop is.

Ek het gese hulle moet daaroor slaap en my in die oggend se wat hulle besluit het. Maar in my hart het ek geweet dat hulle reeds 3 weke tevore hul besluit gemaak het om weg te gaan. Dit is die tyd toe ek hier op die plantasie aangekom het en al hul pligte oorgeneem het wat hulle so geregtelik aan hulself toegeeien het. En daardie pligte bring hul nou nie meer die inkomste in waaraan hul gewoond geraak het nie en wat hulle op ‘n onregverdige en oneerlike wyse bekom het nie.

Ek skryf op Facebook die volgende : And you thought YOU had problems??? Half of my staff resigned!!!

Frances Harber : NO!!!!! What happened? Do I have a job???? Should I pack my suitcase????? xx

Ekke ‎@ Frances - Anytime!!! There’s always a job for you here, but this time I need people who could carry coconuts in a bag on their shoulders. I cannot see you doing that - lol

Ernest Philipus Viviers : Hoekom? Het hulle ander werk gekry op n ander eiland???? Sal jy nou alles moet doen?

Ekke ‎@ Ernest - Nee, die twee groepe hier kom nie oor die weg nie. So die spul wat lui is, is die klomp wat nou waai. Maar dit laat ons met 'n probleem want nuwes moet nou in hul plek aangestel word en die moet kom vir onderhoude en EK moet dit doen

Saturday, November 6, 2010

Blêrrie muise!

12/9/2010


Ek is baie vroeg op om te kyk wat in die kombuis gebeur het deur die nag. Agge nee! Nie dit nie! Dadelik is ek op my selfoon om aanlyn te gaan en op Facebook die nuutste gebeure aan almal te vertel voordat ek weer terug in die bed klim :

I am so upset this morning! The bloody mice stole the teet of Skapie's feeding bottle and now I have to wait till Wednesday afternoon for the plane to arrive before I can get another one! (That’s to say IF we can get a passenger who is willing to bring it from Suva)

Dis Sondag vandag en is ek traag om uit die bed te klim. Maar omdat Ema my genooi het vir ontbyt by hulle, wou ek ook nie te lank draai nie. Sy het die allerheerlikste brood gebak wat ek beslis vir nagereg kan eet. Ek was maar beskeie en het net een snytjie brood geneem om te eet en wou my later teen die kop klap omdat ek nie meer gevat het nie. Nadat ek klaar geeet het, het ek met Noko gepraat oor Josephine wat so by die huis sit en niks doen nie. Ek wou weet hoekom hy haar nie terug skooltoe stuur nie aangesien sy ‘n pragtige jong meisie is wat slim is en dit ook ver in die lewe kan maak. Haar begeerte is om ‘n lugwaardin te word, maar omdat sy deur ‘n ouer man seksueel misbruik is van die ouderdom 13 jaar, het hy haar uit die skool gehaal. Ek het verduidelik dat sy net die beste verdien en dat hy daaraan moet dink anders gaan sy op die ou einde ook maar net hier op die plantasie opeindig en blare optel soos haar ma. Hy het aandagtig gesit en luister en het Ema aan my gese dat hy dit wel sal doen mits ek hulle help om die skoolgeld te betaal. Ek het ingestem daartoe mits dit nie te duur is nie. Hulle was so bly daaroor en sommer dadelik gese dat sy eerder na Suva moet gaan waar sy klas by die Internasionale Skool kan bywoon. Wel, ek het gese ek sal kyk wat ek kan doen, maar ek hoop nie ek het hier ’n perd van ’n ander kleur opgesaal nie aangesien ek hulle nie ook in die steek wil laat nie.

Later het ek weer afgestap na die village om middagete by hulle te kon geniet, en terselfde tyd ook die dominee wat elke tweede week kom diens hou hier in die village, te ontmoet. Ema het behoorlik haarself ook hierdie Sondag oortref met die heerlike Fijiaanse geregte waaraan ek nou stadigaan begin gewoond raak.

Ek het Ema bedank vir die heerlike kos, almal gegroet en weer terug huistoe gestap terwyl die mans in die komunesaal op die grond gaan le het om te rus. Ek kon nie wag om tuis te kom sodat ek almal se kommentaar kon lees op die oggend se muurskrywe nie :

Ernest : Ag nee...die muise is erg! Borsvoed vir skapie!

Anton Jooste : I would have thought it was too big for them - what will they use it for - a submarine?

Anne Sutton : I think you should adopt these mice!!

Virginie Dago : Wow! You really are at the end of the world!

Nicola Butler : oh dear, poor Skapie. What have you improvised with to feed her? I think you secretly like your little mice lol xx

Ekke : ‎@Anton - I think they will use it as a parachute to get away from me.....! Why would they need a teet? But it is nowhere to be found and I think they must have taken it upstairs. (The only place I have not checked yet)

Ekke : ‎@Nicola - they keep me on my toes! One saw me last night but made such a quick turn around you won't believe. But I don't know who got the biggest fright - lol..... For Skapie we now catch a sheep and let her drink on the mother.

Lizbè de Bruyn : Tjarra, weet jy hoe lekker lag ek nou? Ek sien al hoe het jy gegil en rond getrippel toe jy daardie muis sien, en ja, ek wonder wie het die grootste geskrik. En dan kan ek al hoor, hoe jy begin giggel het toe jou hart uiteindelik weer begin klop het!! Jis ek dink ons sou lekker pret kon hê!!

Sonia Pretorius : Sjoe, jy het omtrent opwinding in jou lewe. Geniet dit! En ai tog, skapie moet tog nou niks oorkom nie, die verdomde muise is peste. Gee vir hulle(muise) iets in wat hulle verewig weg van julle sal hou want so kan dit nie aangaan nie. Net nou eet hulle jou klere en als en hoe lank gaan jy dan moet wag vir ietsie om aan te trek. LOL. Sterkte, ek bid vir jou en alles wat mooi is vir jou.

Ekke : And today I heard the passenger who was willing to take it with his luggage did not board the plane. So now I will have to wait for another week because there is only one plane every Wednesday to this island.

Sunday, October 31, 2010

271 trappe of die see?

11/9/2010


Elke Vrydag na werk word Priscilla met die bootjie gaan haal in Mavana waar sy skoolgaan. Dan word sy weer elke Sondagmiddag terug geneem vir die volgende week se skool. Soms wanneer die weer ongunstig is of die see te rof, dan bly sy tuis en mis baie van haar skoolwerk. Nie dat dit ‘n snaaksigheid hier is nie omdat dit ook met ander kinders gebeur van naburige eilande.

Vandag is egter Saterdag en is sy nie gaan haal nie weens die ongure weer van die vorige nag. Ek het gewik en weeg of ek ook moet saam, maar sien nie kans vir die golwe in daardie klein bootjie nie, veral omdat hulle eers in die aand terug sal wees van Mavana. Ek het egter my lysie met benodighede aan Noko gegee om namens my te koop. Ook het ek aan hom ekstra geld gegee sodat hy voorraad vir die winkel kan koop omdat meeste van hul daaglikse gebruiks items klaar is. Ek het heelwat meer bestel en aangesien dit swaar is vir hom en Avinash is om alleen te dra, het ek vir hulle gese om te bel sodra hulle onder in die hawetjie is sodat ons almal kan afkom om te help dra.



Later het ek myself verwens dat ek die versoek gerig het aangesien ek met heelwat voorraad in die hand, die 271 trappe na bo moes trotseer. Dit het my aan my weermag dae laat dink aangesien ons ook swaar goed moes dra wanneer die korporaal ons gedril het. En vandag meer so aangesien ek my hare omtrent poenskop gesny het en ek meer na ‘n bandiet lyk.

Tuis lees ek gou almal se kommentaar op Facebook :

Tania Van Der Merwe : Ai man, is daar nie 'n helikopter nie ;-)

Gary Beauchamp : Shark infested waters maybe...lol Good luck ...look after yourself

Anton Jooste : You'll have to learn to skipper a boat...Then you can decide when it's safe to go.
By the way, an island manager without a boat...About the same as a prison warden without his keys... ;)

Ekke ‎@ Anton - the locals are only allowed to go either on a Friday afternoon after work, or Saturday morning. So if the sea is calm- a big bonus- but if not, just too bad. It is the boss's orders. That is why they face ALL elements because they have no choice. At the moment I am listening to the wind and all I know is I will have to start praying if I want to go with - lol

Tania Van Der Merwe : jy moet lekke naweek hê en veilig ry in daai bootjie môre - dink aan jou

Elmo Erasmus : eerder jy as ek, sterkte... ek sal maar moreoggend net swoeg en sweet by die Virgin Aktive!

Ekke : Ek het vanoggend opgestaan met n blink idee. Ek gaan hulle eerder die geld gee asook my lysie van kruideniersware dan koop hulle dit vir my. Sodra hulle dan uit Mavana vertrek moet hul maar bel. Dan loop ek af onder toe en help hulle dra aan die bokse. Sjoe, ek sien eerder kans vir die 271 trappe na bo as die see. (Dis hoogwater en die wind waai erg en daar is reenwolke so in die verte te bespeur) Goeie idee? Ek dink ook so! Hahaha

Anton Jooste : boer maak 'n plan, well done!!!

Ernest Philipus Viviers : Hoe ver is dit met die boot na Mavana? Doen online shopping op die internet liewer...haha! Klink of die storms maar erg is daar by jou?

Ekke : ‎@ Ernest - dis sowat 20 minute per boot as jy met Avinas alias Jody Shecktor ry. Dan moet dit laagwater wees anders neem dit nog langer omdat daar groot golwe is. Hahaha vir online shopping. Dit sal seker eers 2 maande na bestelling hier aankom. Glo my, hier is net die nodigste te koop. Niks fancy of luuks nie. Een rak in die winkel met bittermin te bied! Suigstokkies is enigste lekkergoed te koop!!! John het darem n slab chocolates gestuur anderdag. (Hy moes my wall gelees het dat my Smarties op is, maar moes hy iemand kry op die lughawe in Suva wat diekant toe gekom het om dit vir my saam te stuur.

Die werkers het gevra dat ek tog asseblief vir hulle op my laptop al die foto’s kan wys, en so tussendeur die Kava wat weer eens deur Para voorberei is, het hulle elke foto aandagtig bekyk en soms bespreek. Selfs van die video items was vir hulle te wonderlik en het Josephine en Priscilla naby my gesit om seker te maak ek mis nie iets nie en wys alles aan hulle. Ag siestog, ook maar uitgehonger vir bietjie ander vermaak. Na die fotosessie het Ema aan my vis aangebied wat in coconut olie gaargemaak is, asook kasawa wat vir my nie lekker is nie en wat soms vir my voel of dit net dwars in my krop bly sit.

Ek skryf weer eens op Facebook die volgende : Had a 'fun' evening out in the village. Showed them photos, video clips and played some music, all on my laptop. Drank Kava with the men and had fried fish with Kasawa for supper.

Ernest Philipus Viviers : Wat is kava en kashawa? Dit klink volksvreemd vir my!

Ekke : Kava is n tradisionele drank wat soos modderwater lyk en proe. Kasawa is n knol wat hulle eet maar wat na my mening so droog is dat jy amper daaraan verstik. Ek sal die moontlikhede moet ondersoek om 'iets' daarvan te maak.

Anna-Marie Daubney : Haha, ek rapporteer jou Fijian experience Dinsdag weer en dit gaan oor Kava en Kasawa, lollipop / seepetende muise, Skapie en eilandhopping / shopping. Wat mis ek?

Muise

10/9/2010


Op Facebook skryf ek die volgende : ‘These mice have a sweet tooth as well. They stole my lollypops but left one! But I managed to catch one little bastard last night!

Die vorige nagte het die muise my so uit die slaap gehou met hul lawaaiery en ook van my badseep opgevreet. So ek was heel in my skik om een te kon vang. Die kommentaar op Facebook het my laat lag :

Frances Harber : Sjoe, you are brave! I would have handed him the last lollypop and run away shrieking!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! xxxx

Elrina Pretorius : So n stoute muis!!! Het julle muskiete ook wat pla?

Ernest Viviers : Jy hom dood gemaak?

Elrina Pretorius : trap op sy kop dan is hy dood! .... braai hom en sit dit voor vir aandete vir daai eilandbewoners .... se dis ingevoerde vleis vanaf SA!! Hulle is kapawel en eet ALS op ..... hahaha , ek gaan my in stukkies lag !!

Isabelle Lefevre : Ha, ha, ha .....They are not that bad, they left you one ! They could have taken them all !!! That reminds me of our Christmas Holiday in Durban !!! Bloody rats......

Lizbè de Bruyn : Klink my jy het lekker fun, soos gewoonlik. Ek sien al hoe giggel jy oor die petalje!!

Anton Jooste : Neem aan dit beteken jy't nou 2 pets: n skaap en n muis? ;)

Ekke : Nee, net die skapie. Ek is nie een vir muise nie. Die goed gee my die krieps! Hulle maak my in die nagte wakker met hul gespelery, en as ek nie keer nie, is die goed in my kamer ook. Soos die akkedis wat onder my kopkussing slaap! Glo my, ek het al hoog gespring - lol

Erika Horn : What an interesting life.

Later die aand skryf ek op my Facebook muur : Please pray for me! Tomorrow morning I have to go to Mavana once again to buy food supplies for the shop. Oh God, help me, for the sea is so rough due to the winds of the past 8 days and the ongoing rains.
Ja, dit reen nou al 8 dae aaneen en sal dit nog vir ‘n paar dae so aanhou aangesien dit algemeen is hier in Fiji en die aanbreek van die sikloonseisoen aantoon.

 

Thursday, October 28, 2010

Kat & Muis

8/9/2010


Vanoggend sit ek en kyk hoe ‘Pussy’ met iets in die gras speel terwyl ek my oggendtee hier aan huis van Ema geniet. Niemand anders dink dis snaaks nie en maak net elke keer aanmerkings as ek lag van pure plesier. Vir hulle is dit ongehoord dat iemand soveel aandag aan engie dier kan skenk en vind dit vreemd dat ek elke dag die kat en die hond streel en met hulle speel voordat ek my tee drink. Para is gewoonlik die een wat aanmerkings maak aangesien hy altyd die een is wat die kat teen die kop klap dat sy daar trek. Vele maal het ek so jammer gevoel vir die kat wat so hardhandig behandel word aangesien sy die fynste ou stemmetjie het wat ek nog aan ’n kat gehoor het. Ja, wat sal ek net nie wou gee my lieflingkatte by my te kon  nie.

Toe almal weg is na hul onderkeie werk, het ek nader gestap om te kyk waarmee die kat speel. Sy het ‘n veldmuis gevang om mee te speel en het hom elke keer bespring as hy wou weghardloop, of sommer net in die lug gegooi vir die plesier. Dit was te kostelik om na die spelery te staan en kyk maar ongelukkig moes ek aangaan met my werk.

Tuesday, October 26, 2010

Ja, die lewe

7/9/2010


Ek het probeer om die lammetjie by die ander skape in die kraal te sit en op die muur geklim om na die petalje te kyk. Almal het net aan haar kom ruik en verder gestap, terwyl sy onophoudend bler. Selfs die ander skaapmoeders het nie eens aandag gegee aan die ou dingetjie nie. In my hart het ek haar innig jammer gekry en het daar soveel gedagtes deur my kop begin maal. Ek het op die kraalmuur gestaan en kyk na die hele ‘verhaal‘ wat voor my afspeel, en aan my eie lewe gedink wat soms  dieselfde lyk. Soms roep ek ook uit na hulp terwyl my Hemelse Vader van bo kyk, heel bewus van wat om my aangaan, maar in Sy hart ook ’n deurnis het wanneer Hy so na my kyk. Mense om my sien my nood raak, maar almal staan net en kyk sonder om my te help en om my toestand te verlig. Trane het in my oe opgewel en het ek my Hemelse Vader se stem diep in my hart hoor spreek. Maar soos die Bybel ook se: Die Vader ken sy kudde, en sy kudde ken Sy stem, net soos hierdie skapie ook my stem leer ken het en my as haar ma aangeneem het. (Johannes 10:3-5)

Misa het later die oggend ‘n ander skaap gevang wie se lammetjie ook deur die varke opgevreet is en haar na die village gebring sodat die ou dingetjie kon drink. Dit sal ons maar elke dag moet doen aangesien die skapie lam is in beide agterbeentjies en haar met moeite met die voorbeentjies vorentoe trek. Indien sy genoeg melk kry, sal sy sterker word en sal die beentjies ook reg kan funksioneer.