Friday, October 8, 2010

Winkels & Tee op Vanuabalavu (02/10/2010)

Ek het pas vir my koffie gemaak en hier buite op die stoep kom sit, toe my selfoon lui. ‘Hallo, hoe gaan dit?’ se die stem aan die anderkant. Dit het ‘n rukkie geneem voor ek besef het dat dit my vriend Ernst is wat my uit Suid Afrika bel. Ons het land en sand gesels en kon ek nie genoeg praat nie. Shame, hy bel my en ek praat sy ore behoorlik van sy kop af, maar ek kon nie anders nie. Dit was net so lekker om sy stem te hoor en dan ook om weer Afrikaans te hoor. Het lanklaas Afrikaans kon praat, al doen ek dit met Skapie, die hanslam. Sy verstaan tog nie, al laat dit my effe beter voel om tog net met iets of iemand te kan Afrikaans praat.

Die ‘Sometime Shop’ hier in die village waar ek woon, is onder my bestuur en moet ek maar sorg dat alles in orde is en dat die boeke balanseer. Dis egter nie so maklik nie, want alles word hier met die hand opgeskryf aangesien daar nie ‘n rekenaar is wat ek kan gebruik vir die doel nie. Ook het ek nou al geleer om nie vies te raak vir die werkers wat een ding per slag koop en betaal nie. Hoekom hulle nie alles op een slag van die rak afhaal en op my toonbank sit sodat ek dit eenmalig kan bereken en hul betaling ontvang nie, sal net hulle weet. Iets sal van die rak geneem word en op my toonbank gesit word sodat ek dit kan opskryf en hul betaling ontvang. Sodra ek die kleingeld uitbetaal het, sal hulle die volgende artikel van die rak neem en dit op my toonbank sit. So kan een persoon soms tot 8 items neem en betaal, neem en betaal, tot groot frustrasie vir my. Maar dis hoe dit hier in Fiji gedoen word en ek moet maar daarby hou.



Maar vandag het ek die winkeltjie herrangskik en die verskillende items uitgesorteer en soort by soort gesit. Die plekkie het sommer ’n gedaanteverwisseling ondergaan met die bietjie veranderings wat ek aangebring het. Daar is nie veel items in die winkel nie en word slegs die uiters noodsaaklike items hier aangehou soos koekmeel, bakpoeier, gis, ontbyt koekies, margarien (dit word in ‘n emmer water gehou om die miere weg te hou) suiker, sout, rys, poeiermelk, corned beef, blikkies tuna, 2 minute noodles, badseep, waspoeier, tandepasta en toiletpapier. Nie veel nie, maar wat hulle daagliks eet en gebruik. Dan word daar ook diesel (vir die trekker), lampolie (vir hul lanterns), en pre-mix hier aangehou vir elke dag se gebruik. Elke keer as iemand diesel of pre-mix wil he, word ‘n lang pyp in die drom gesit. Aan die anderkant van die pyp word dit dan gesuig sodat dit kan uitloop in ‘n ander houer. Maar verskeie kere het hulle al ‘n mondvol diesel of pre-mix in die mond gekry. Ek het dit ook al probeer oortap in ‘n ander houer vir my gebruik en ook verskeie kere ‘n mond vol pre-mix moes proe en uitspoeg.

Maar vandag was ook die dag vir Ema om die huis waarin ek bly, te kom skoonmaak. Sy is veronderstel om dit elke tweede week te doen. Later het ek en sy oor verskillende kossoorte gesels en het sy my ook vertel dat haar broer, Seru, ‘n sjef is by een van die hotelle hier in Suva. Volgens haar raas hy elke keer met haar omdat sy nie eens behoorlik kos kan maak nie en net die gewone resepte uitprobeer elke keer. Maar soos sy se, sy het nie ‘n oond of ‘n yskas nie. Als word hier in die ‘Lovo’ gebak en is daar geen temperatuurmeter nie omdat dit net ‘n gat in die grond is wat vol warm kole gegooi is en dan met blare, klippe en grond bedek word. Produkte is ook nie hier op die eiland vrylik beskikbaar nie, so hoe moet sy haarself kan uitleef in iets waarvan sy nie eens produkte van het nie. Ek het my resepteboek gaan haal wat ek van die huis saamgebring het. Alles oor tradisionele kosse in Suid Afrika. Sy het na elke foto in die boek gekyk en elke keer net gese: “You should teach me how’s to makes” met ‘n mond wat water na al die heerlike disse in die boek. Maar baie van die kositems was nie aan haar bekend nie en het ek besef dat dit nie eens sal help om te verduidelik nie, want al wat sy elke keer dan aan my se is : “What that? You can eat?…. Oo, nice! In South Africa many nice foods, hey? Fiji only little. We only eat things likes Taro (’n knol of wortel van ‘n plant), Cassava (wat my nou gladnie aanstaan nie en so droog is dat dit jou laat verstik) en Rourou (lyk soos die blare van ons Olifantoor-plant).” Ek het haar regtig jammer gekry en gese ek sal haar so paar resepte leer wat sy kan maak vir die ander in die village.

Later die middag nadat almal klaar gewerk het, is ek na die village waar ek soos gewoonlik, tee gaan drink aan huis van Ema en Noko. Elke dag word daar by die bakkie tee (hulle drink baie flou koffie of tee uit ‘n bakkie) ook ’n bakkie rys bedien wat jy dan moet meng en so drink-eet. Ek se maar elke keer nee dankie vir wat hulle ‘Rystee’ noem, aangesien ek nie myself kan indink dat dit lekker kan wees nie, - soet swart tee met rys daarin. Juk! Indien rys nie beskikbaar is nie, breek hulle die ontbytkoekies in stukkies en word dit ook in die tee geweek tot sag en so geeet. Maar glo my, die allervreeslikste geluide kom gewoonlik van so ’n geeet en gedrinkery! In die begin het ek tot in my kleintoontjie daarvoor gegril, maar vir hulle is dit allerdaags en ook nie snaaks om ’n wind op te breek so tussendeur die etery nie. Hoe se my vriendin Leona altyd : “Beslis nie eende van ons dam nie!” Ek het ook nou al geleer om nie te kyk wanneer sy die tee skink nie. Die water lyk meeste van die kere so melkerig (meer na skottelgoedwater as jy my vra) en weet ek nie of die ketel skoon water bevat aldan nie. Baie kere is daar ook al haartjies en ander goeters in my tee gekry wat ek maar ‘n blinde oog gooi en verder drink in die hope dat ek dit ook sal oorleef. Vanoggend het sy ook weer iemand se onklaargedrinkte tee by my tee gegooi sodat dit nie mors nie! Sjoe, beslis nie eende van ons dam nie!!! Hulle besit net 2 bekers waaruit sy elke keer my tee bedien. Dit lyk sommer vuil en is oral getjip. Maar soos ek nou al besef het, ek het tot hiertoe oorleef en hopelik al ’n goeie weerstand teen al die kieme en dinge opgebou. Higiene is beslis nie hoog op hul agende nie.

Ek het lank by hulle gesit en gesels en het Ema ‘n boodskap deurgebel na die radiostasie sodat hulle tog musiek kan speel vir die “nuwe bestuurder van die plantasie.” Elke middag word daar versoeke deurgebel wat oor die radio uitgesaai word en kan jy ook ‘n versoek rig ‘n sekere musieksnit te hoor. Vandag speel hulle my versoek van die lied ‘Lomaloma’ (google dit en luister daarna) met haar elle lange boodskap in Fijiaans. Wel, nou het almal op die eiland gehoor hier is ‘n nuwe bestuurder en dat hy (ek) baie ‘nice’ is. Sover ek kon verstaan in gesprekke met hulle daarna, is daar baie mense wat nou hier op die plantasie wil kom werk. So die keuringsproses sal maar sy gang gaan aangesien ons heelwat mense hier nodig het.

1 comment:

  1. klink my tee neem 'n hele nuwe betekenis aan - ek haal my hoed af vir jou!!!

    ReplyDelete