3/9
Ek is weer vroeg af ondertoe om die dag se pligte aan elkeen te verduidelik. Ons moet egter vandag skape vang wat in die kraal gehou moet word sodat ons hulle medisyne kan gee. Maar wat ‘n gedoente! Sewe uur het ons begin maar teen 12 uur die middag het ons moed opgegee. Ons het almal so gelag vir die hele petalje want om skaap te vang is nie so maklik nie! Elkeen het sy posisie gehad en stadig vorentoe beweeg om die skape in ‘n hoek te kry waar die hek na die kraal is. Maar een ram het die allerhoogste bokspringe gegee en 3 ander ooie het hom gevolg. Avinash het agterna gehardloop om hulle te probeer keer aan die anderkant, maar heelaas het hy ook tou opgegooi aangesien die terrein vol skerp rotse is wat sy voete kan sny. Een ooi het egter deur die village se heining gebreek en ‘n ander koers ingeslaan as die res. Die werkers het besluit om haar agterna te sit en is sy die koppie in waar sy vasgeval het in ‘n gat.
Die werkers het geskree dat ek die medisynetang moet bring sodat ons die ooi ten minste kan dokter aangesien dit makliker sal wees met haar in die gat. Maar ek was in die kantoortjie besig om die medisynetang te probeer regmaak aangesien dit nie wou werk nie. Almal het hul pligte gelos en kom hand bysit, al is dit net nodig vir Avinash om daar te wees omdat hy die enigste een is wat iets kan regmaak of weer in ‘n werkende toestand kan kry.
Hier op ons plantasie is almal meer as gewillig om hand by te sit, maar dis eintlik eerder om te staan en kyk en ‘n ruskansie te neem asook om nie meer werk te verrig as die ander werkers nie. Ek het egter besluit om eerder die baas te laat weet om ‘n nuwe een te stuur, maar hy was nie baie ingenome met die idee nie en het gese ek moet dit in diesel vir ‘n dag of twee laat le. Maar glo my, dit het ook nie gehelp nie.
Ons was poegaai van al die gehardloop agter al die skape aan en het ons geskater van die lag. Noko en Para is heel skrikkerig vir diere en kom eintlik nie naby hulle as dit nie noodsaaklik is nie, en sodoende kom menige van die diere weg wanneer hulle gevang moet word. Ek het besluit dat ons maar etenstyd moet neem en na die tyd iets anders doen en nie so die dag so verkwis om agter die orige 4 skape aan te hardloop nie.
Vandag is ook betaaldag en nadat ek die salarisse uitbetaal het, kon ek sien dat die mense nie gelukkig was met dit wat hulle vir die week ontvang het nie. Niemand is veronderstel om te weet wat die ander persoon verdien nie, maar almal drom altyd in die winkeltjie saam om te sien wat die ander een verdien en of ek nie dalk iemand meer betaal as wat nodig is nie. Dan praat hul oor die week se verdienstes en gee geld aan Noko of Ema vir die kos wat Ema elke keer vir almal moet maak. Maar ek kon op hul gesigte sien iets is verkeerd, maar niemand wou my se of dit wel die geval was aldan nie. Al wat Noko se is : “It’s OK, no problem, Boss!”
Ema het egter vir my ‘n wonderlike kompliment gegee wat my so goed laat voel het. Terwyl sy weer eens vir my tee skink om te drink, se sy : “Tjaat, when you come Fiji, you fat. Now you small. Ek was egter baie bly want ek het nie gedink dit is so sigbaar nie, alhoewel my klere al hoe losser begin sit aan my lyf. Voordat ek Suid Afrika verlaat het, was ek vinnig oppad om ‘n 34 grootte broek te moes dra en het ek maar gesukkel om die ekstra gewiggies af te skud. En nou is ek egter besig om vinnig maerder te word en sit my 32 grootte broeke ook nou heelwat losser.
Terwyl ons sit en gesels, kom Torovi van onderaf geloop met ‘n lammetjie van ‘n dag of twee oud. Volgens hom het die ooi geboorte gegee aan ‘n tweeling, maar is die ander lammetjie deur die varke in die nag gedeeltelik opgevreet en het die ma die enetjie in die bos agtergelaat. Sy het self ‘n paar wonde opgedoen in die proses om die varke weg te hou van haar lammetjies. Ek het besluit om die skapie huistoe te bring en hier te hou.
Die ma is later gevang maar wou nie he dat die skapie aan haar drink nie aangesien sy besig was om dood te gaan. Miljuisende klein wurmpies het op haar vel onder haar wol rond gekrioel en was die stank ondraagbaar. Vliee het van oral gekom en op al die stukkende wonde kom sit wat onder haar wol na vore gekom het terwyl ek die wol met ‘n stok van haar afskraap. Sjoe, watse lyding moes die skaap net nie deurmaak nie! Sy is ‘n paar minute later dood en het die werkers haar iewers gesleep om verbrand te word.
No comments:
Post a Comment