5/9/2010
Wat ‘n gedoente om vir die ou skapie melk te gee. Ek het geen tietiebottel nie en weet ook nie hoe om vir haar melk in te kry nie, behalwe om ‘n plastieksak te neem en in die een hoek van die sak ‘n gaatjie te maak sodat die melk daaruit kan loop en sy aan die punt kan suig. Dit het nie helemal so lekker gewerk nie, maar het sy darem melk kon wat ek vir haar aangemaak het.
Vandag is egter Vadersdag hier in Fiji. Dit word op verskillende tye gehou afhangende van waar jy woon. Die naweek is dit die eilande van die Lau groep se beurt, maar komende naweek sal dit op die hoofeiland gevier word. Avinash nooi my egter weer om middagete by sy ouers te gaan geniet en stem ek heelhartig in, afgesien van die feit dat ek weet dat ek nie altyd weet wat ek eet en hoe higienies dit voorberei is nie.
Daar is twee maniere om van Nabavatu na Adavaci (spreek dit uit as Andavathi) te gaan. Een, om die boot te neem en dan regs-om die eiland te vaar (gewoonlik as dit hoogwater is), of, om links deur die vlakwater na die oorkant te loop wanneer dit laagwater is. Die gety is egter besig om in te kom, en het Avinash die Kayak gekry sodat ek daarop kan sit en hy dit deur die water trek na die oorkant. Hy is altyd daarop gesteld dat ek nie sal nat word nie, of dat ek enige ongerief sal verduur nie.
Aan huis van sy ouers het ek weer eens my plek op die vloer ingeneem om te sit. Dadelik is ek tee aangebied en het Avinash se ma ook aan my ‘n tradisionele koekie gebring om te eet wat vir my meer na my ma se plaatkoekies geproe het. Daarby ook kerrievis. Die vis word egter met grate en ander ‘afval’ gekook en word die vleis van die bene en grate afgesuig. Jojo verduidelik dat die vis in die modderwaters voorkom en met ’n skerp voorwerp gesteek word wanneer hulle dit vang. Sy ma het intussen roti gebring om te eet asook die allerkleinste, en stroopsoet piesankies.
Ons gesels maar oor ditjies en datjies, net om ‘n gesprek te kan voer. Hulle kennis van dit wat buite die grense van hierdie eiland aangaan, is maar uitsters min en kan ek daarom dus nie ‘n opbouende gesprek voer met enige een van hulle nie. Ook moet ek stadig en verduidelikend praat sodat die boodskap reg oorgedra word en daar geen misverstande sal wees nie. Avinash se ouma is vir my te dierbaar en het sy aan my vertel dat sy by haar ouer seun, wat in Michigan in Amerika woon, vir sowat 15 jaar gebly het. Sy het nie van die koue winters gehou nie en het besluit om eerder terug te kom na Fiji.
Net voor ete het ek gevra of ek nie ‘n ent kan gaan stap op die strand nie. Avinash het saam met my geloop tot waar ons nie meer verder kon gaan nie. Daar het ek in ‘n baie groot boom wat op die strand oorleun, gaan sit en so deur die blare na die mooie natuurskoon gekyk terwyl Avinash iewers rondgestap het. Die water was ongelooflik mooi en het elke paar meter ‘n ander kleur na vore gebring.
Terug aan huis van die Khumar’s, het ek dadelik gaan aansit om my middagete te geniet. Meeste van die kosbakke is weer eens voor my neergesit terwyl hulle elkeen ‘n klein bakkie met kos voor hulle het. Maar soos gewoonlik eet ek nie veel nie en is op vandag se spyskaart: Gebraaide vis met ’n deeglagie om, viskoppe in ’n kerriesous, dalo (‘n knolplant) roti en ‘n heerlike tamatie en uiesalsa.
Daar is ook die keer vir my ‘n kospakkie ingesit wat ek moes huistoe neem.
Dit was hoogwater en het Masi, die broer van Avinash, ons met sy bootjie na Nabavatu gebring.
No comments:
Post a Comment