Sunday, October 24, 2010

Ag, my Skapie

4 Sep.


Vanoggend vroeg is ons weer na Mavana. Noko is egter die stuurman en is hy meer bewus van die golwe om dit teen ‘n skuinste te tref, as Avinash wat sommer net jaag om by die eindpunt te kom. Maar die see is ook vanoggend heelwat stiller en was dit ‘n plesier om te kon ry met Noko se klein bootjie. Ons moes egter sowat 500 meter van die wal af anker gooi en kant toe loop aangesien dit laagwater was en ons nie nader kon vaar nie.

Aan huis van Ema se broer gesels ons tog te lekker en wou hy alles en nog wat uitvind oor my en waarom ek na Fiji gekom het. Ek is so paar van die plekke hier in Mavana gewys en het ons ook verby Afrikaner blommetjies geloop. Ek het gevra wat hulle die blommetjie noem aangesien ons dieselfde in Suid Afrika het. Ema se broer het ‘n oomblik gehuiwer en toe gese : ‘Monkey fish!’

Op my Facebook skryf ek dat ek wonder wat ons aartvaders daarvan sal sê?

Later het ek in die plaaslike winkeltjie ‘n paar goedjies aangekoop om terug te vat na Nabavatu, onder andere ‘n paar stokou KitKat’s wat ek wel hier kon vind. Ek was so bly oor dit en het ten duurste hul hele voorraad opgekoop. Oppad terug in die bootjie het ek aan die ander elkeen ‘n Kitkat gegee om te eet, maar Para het nie van die soet gedoente gehou nie en dit vir iemand anders gegee om te eet.

Terug in Nabavatu se hawetjie het ons heelwat gehad om van daar na die village te dra, en soos gewoonlik het Avinash die meeste maar ook die swaarste bokse lag-lag met die 271 trappe na bo gedra. Waar hy die krag vir so iets kry, is vir my steeds duister aangesien hy skraal gebou is en nie lyk of hy so sterk kan wees nie. 

Ema het intussen koffie voorberei, maar het dit na flou skottelgoedwater geproe aangesien hulle hul koffie uiters flou drink en die water so te sê net verkleur. Omdat hulle almal armoedig is en nie duur items kan beskostig nie, is dit einlik maar net die idee wat tel, of om te sê: ek het koffie gedrink, al het dit na flou water geproe en gelyk.

So word hul aanmaakkoeldrank ook gedrink. Die idee is om die water net te verkleur en dan verder te versoet met suiker.

Die aand het ek gou die kommentaar gelees oor die Afrikaner blommetjie. 
My niggie Helena Gouws skryf : ‘nou help hul reg en kak hul bietjie uit. Jy’s mos nie skaam vir erfenis nie!

Skapie huil egter die hele nag want die wind waai vreeslik buite en is dit koel. Om nie weer ‘n slapelose nag te moet trotseer nie, het ek ‘n kartondoos geneem en die skapie binne-in geplaas en langs my bed neergesit om te slaap. Maar ek het ook nie veel slaap kon inky nie want ek moes my hand in die kartondoos hou sodat die Skapie my kon ruik en sodoende rustiger wees. Elke keer as ek omdraai en my hand uit die kartondoos neem, dan blêr die ou dingetjie met haar fyn ou stemmetjie en moet ek maar weer my hand op haar plaas sodat sy rustig kan wees.

Ek het aan ‘n naam gedink om aan haar te gee, maar omdat niemand hier Afrikaans verstaan nie, het ek gedink dis ‘n gulde geleentheid om haar sommer Skapie te noem. Vir hulle is dit ‘n nuwe soort naam en sukkel daarom dus met die uitspraak en noem haar Skoppie.

 

No comments:

Post a Comment