Wednesday, July 21, 2010

My laaste dag

Ek het gisteroggend omstreeks 5 uur wakker geword en in die bed bly lê maar besef iets is drasties verkeerd met my. Alles om my draai in die rondte en is ek so dronk soos ‘n tor. Ek het probeer opstaan, maar nog erger, want ek val oor my voete en moet oral vashou om te kan regop staan. Maar ek moes by die badkamer uitkom want ek was ongelooflik naar.

Hoekom nou vanoggend? Hoekom nou? Het ek gedink. Dis my laaste oggend by die werk en kan ek nie my afskeidsontbyt mis nie! Hulle het egter ‘n afskeid gereël en kan ek dit sekerlik nie mis nie. Maar alles draai om my en is ek so naar.

Ek probeer skeer, maar draai my eie beeld in die spieël in die rondte. Wat ‘n gedoente. Ek kan ook niks eet nie en voel soos die dood en is bleek verby. Eindelik na 'n gesukkel is ek in die motor oppad werk toe, maar ek ry ook so versigtig en stadig, te bang dat ek iets doen wat erge gevolge vir my sou inhou.

By die werk moes ek hoor dat Sharon ook siek is. Vir haar kry ek by die apteek nadat ek ook medisyne gaan koop het. Met die pilletjie in het ek gebid dat ek gou beter sal voel want ek kan nie bekostig om hier by my afskeid, siek te wees nie.

Als het goed afgeloop en het ek ‘n croissant geëet. Almal vra vrae en is nuuskierig oor wat ek gaan doen en hoe ek gemaak het om die werk te kry. Ken ek mense daar? Hoe groot is die eiland? Met waste klere gaan ek werk? Wat is daar te doen op die eiland? Die vrae kom een na die ander en kan ek skaars tyd kry om verder te eet. Maar ek het intussen darem een van Stephane se pannekoeke kon eet, asook vrugteslaai.

My afskeidsgeskenk word aan my oorhandig. Die vorige dag het Maryse my vertel dat daar 2 persone is wat nie ‘n bydrae gegee het nie aangesien hulle glo nie geld het nie. Glo nog nie ‘pay day’ nie. Ag wat maak dit ook nou saak, het ek vir haar gesê, ek is lankal verby daardie stadium dat ek iets van enige iemand verwag. Maar groot was my verbasing toe ek die geskenkpakkie oopmaak. Binne in was ‘n mooi wit hemp met groen blomme en blare op geborduur. Daar is ‘n rooi-oranje swembroek in, ‘n botteloopmaker wat ek om my nek kan dra, en dan die beste van als, ‘n snorkel ‘kit’. Wow, ek was so bly, want nou kan ek begin om te snorkel wanneer ek daar is. Almal wil weet of ek kan snorkel en of ek al scuba duik gedoen het. Nee sê ek, maar daar is altyd ‘n eerste keer. Maar min weet mense dat ek eintlik nie kan swem nie ! Ja, ek is nou nie die beste swemmer wat jy kry nie, maar ek glo nie ek sal sommer verdrink nie, solank my voete net grond kan raak – hahaha.
Ook het ek 'n fotoraampie gekry met foto's in wat deur my geneem is die afgelope tyd. Ja, daar is niemand voorheen wat foto's van enige geleentheid geneem het nie, net ek. En hier kry ek 'n fotoraampie met foto's waarin ek verskyn tesame met ander van die kantoor. Baie 'nice' het ek gedink.

Ek is terug na my kantoor waar ek die laaste klomp werk gedoen het en my tafel in orde probeer kry. Net na 14h00 is ek uit die kantoor nadat ek die wat nog in die kantoor was, vir oulaas gegroet het. Van hier is ek reguit na die Australiaanse Visa Sentrum waar ek my paspoort opgetel het met my visum daarin wat vir ‘n jaar geldig is. Die langste wat ek in die land mag bly, is drie maande op ‘n slag. Maar ek kan soveel kere in en uit die land beweeg soos ek wil. Jippee, het ek gedink. Wie weet, ek mag dalk net van die geleentheid gebruik maak.

Ek is huistoe en het in die bed geklim en kom slaap.

No comments:

Post a Comment