Monday, August 30, 2010

Die dag wat ek van Suva vertek het oppad na Vanuabalavu

21 Augustus 2010

Ek is ten laaste besig om in te pak vir my groot ekspidisie na Vanuabalavu. Ek het lank uitgesien na hierdie geleentheid en het sowat 2 weke aan’t huis by John in Lami, gebly. Dit was aangenaam, en het ek heelwat gedoen soos om onder andere foto’s op Facebook te laai (sjoe, harde werk) en ook inligting in te win oor Heuningbyproduksie en die aanplant van Sandalwood op die eiland van Vanuabalavu.

Soos genoem, is heuningbyproduksie een van die projekte waarmee die eienaars wil begin om meer geld in te win, bo en behalwe die VCO produksie wat reeds op die eiland in plek is. Ek sal dalk die geleentheid he om beide die projekte van die grond te kry, maar is daar egter nog heelwat navorsing en werk wat voor die tyd gedoen moet word. Ook kan dit ‘n duur uitgawe wees, aangesien al die bye (verkieslik Italiaanse bye), byekorwe en beskermde kleredrag aangekoop moet word. Maar as dit eers van die grond is, is dit net nodig om elke 3 weke na die bye om te sien. Verseker iets wat ek sal wil doen, maar daar is iets wat my laat tweekeer dink het toe ek hoor wat die kenners te se het oor bystekery!

Volgens reels, MOET jy ten minste eenkeer per maand deur ’n by gesteek word om jou immuniteit op te bou. Ouch! Dit het ek self van ‘n byekenner gehoor wat deesdae meer dikwels, en vrywilliglik ook nog boonop, gesteek word wat vir sy arthritis in sy hande help. Maar soos Leona, my vriendin, ook grappenderwys aan my gese het - “ Ag ten minste gaan jy ’n steek inky so elke nou en dan! ” Hahaha, ook net sy wat aan so iets sal dink! Maar laat ek verder skryf oor my uittog na Vanuabalavu.

Met my rugsak gepak is ek so te se gereed vir die tog na die eiland, alhoewel ek half onseker was wat om te verwag. Ek kom van ’n stad waar alles vrylik beskikbaar is en het geen ervaring van eilandlewe nie, maar voel in ‘n mate reg vir die uitdaging. Soos Erika in een van haar boodskappe aan my skryf : “ It always comes at a price, but man, it is worth it! ”

Ek en John het op Nausori-lughawe aangekom net buite Suva, die hoofstad van Fiji. Hy het die bakkie voor die terminaal geparkeer en het ek ons bagasie begin aflaai vanwaar ons per vliegtuig na Taveuni sou vlieg. Nie alles was behoorlik ingepak nie en het John nog ten laaste, paar lee bokse gekry om goed in te pak. Hy het by die inboektoonbank gaan vra vir kleefband en met die rol dun band daar aangekom om die lendelam bokse mee toe te plak. Genade, het ek gedink, hoe op aarde gaan hierdie bokse ooit toe bly aangesien dit lekkende vloeistof bevat? Dit sal mos nooit veilig aan die anderkant kom nie! As die boks omgestamp word, sal al die vloeistof uitloop, en sal dit katastrofies wees aangesien dit medisyne is vir die skape op die eiland. Die ander boks het brood, koue vleis en ander bederfbare kos in. En wat as die medisyne uitloop op die brood en vleis? Ek vra vir John wat gaan hy se as hulle vra wat in die sogenaamde medisyneboks is aangesien daar nie sulke tipe vloeistowwe op die vliegtuig toegelaat sal word nie, waarop hy toe net antwoord en se, “ O, dis alles kos. Hulle hoef nie te weet wat presies daarin is nie en dan behoort hulle dit deur te laat. ”

Die dame het my gevra of my rugsak beide van ons se bagasie bevat aangesien dit heelwat oorgewig was vir net een persoon. Sy bagasie is eerstens geweeg en is aan hom gese dat hy 18 Fijian Dollars moet inbetaal waarop hy toe paar goed uithaal en net sowat 12 FJD moes betaal.
Hy het eerste op die skaal geklim met sy bagasie, en ek daarna met alles wat ek met my sou saamvat.

Die vlug het sowat 45 minute geduur na Taveuni en was die uitsig asemrowend mooi. Ek het heelwat foto’s geneem van die atols en eilande onder ons. Die venster van die klein vliegtuigie waarmee ons gevlieg het, was egter nie helemal toe nie en het ek baie koud gekry weens die wind wat op my bly waai.

Ons het op Taveuni geland in mistige en reenerige weer. Die terminus was te kostelik en so piepklein, en het paar mense daar gewag om weer dieselfde vliegtuig na Suva te neem. Na al ons bagasie afgelaai is, is ons deur ‘n vriend van John opgelaai en na ’n nog kleiner hawetjie geneem van waar ons met die Tau ter see geseil het.

2 comments:

  1. Jinne, as jy maar weet hoe lank dit my vat om dit opgelaai te kry! Moet se ek mis die vinnige internet in onse ou landjie......

    ReplyDelete