Wednesday, November 17, 2010

Kos & die Koei in die stort

Avinash het my weer genooi vir ete by sy ouers. Ek wou eers nie instem om te gaan nie, maar omdat hy die vorige dag ’n groot Kokosneutkrap gevang het, het hy gese sy ma sal dit spesiaal vir my voorberei dat ek haar heerlike krapkerriegereg kan proe. Wel het ek gedink, ek het niks om te verloor nie want ek het nou al Ema se krapgereg geeet, en dalk is hierdie lekkerder of dalk hoe dit gaargemaak moet word.
Ons het die tog oor die eiland aangepak en het dit gly-gly gegaan omdat dit die vorige nag gereen het en die paadjie maar nat en glyerig is. Sy ouers was opgewonde om my weer te sien en het sy ma sommer dadelik vir my gese sy gaan spesiaal vir my die krapgereg maak, maar dat sy ook ‘Songe’ kerrie vir my gemaak het. Songe is ‘n groot bosduif wat hulle in ‘n wip vang en dan gaarmaak. Maar daar is na my mening ook nie veel vleis aan die bosduif nie, veral as jy nie soos hulle alles afsuig en selfs die bene kou nie.

Ek het heelwat foto’s van sy ma en sussie geneem waar hulle in die kombuis werksaam was. Elke keer as ek met die kamera fokus na iets, dan kom die sussie nader geloop om ook in die foto te wees. Ek het later maar ‘n hele klomp van haar geneem net sodat sy tevrede kan wees en ek rustig op my eie aangaan en foto’s neem sonder mense daarin.

Soos gewoonlik het ek die meeste opskepbakke met kos voor my gehad. Alles is aan die kant geplaas waar ek sou sit terwyl hulle elkeen ‘n klein bakkie met kos voor hulle het. Maar vandag is ek gevra om ‘n gebed te doen voor ons sou eet. Ek was helemal uit die veld geslaan maar het my gebed in Engels gedoen en ook die Hemelse Vader gevra om die huis te seen en in al hul behoeftes te voorsien. Almal het amen gese en weggeval om te eet, terwyl sussie weer eens langs my kom staan met die handwaaier om al die vliee van my weg te hou. Kort-kort vra iemand : ‘Nice, you like it?’ of : ‘Nice, have some more,’ terwyl my bord nog vol kos is. Sodra dit lyk of iets in my bord klaar geeet is, dan word die volgende bak voor my gesit om nog in te skep.



Na ete is ek en Masi, die broer van Avinash, na sy groentetuin teen die hange van die heuwel. Hy lyk vandag heel skaflik en kon ek nie glo dis dieselfde persoon wat ek paar dae gelede gesien het nie. Selfs ek het gedink ek sal graag met hom wil gesels en beter leer ken, maar sy ma is bekommerd dat ek niks sal verstaan wat Masi se nie, omdat hy nie Engels magtig is nie. Sy het gese hy wil my sy tuin gaan wys maar dat hy nie met my Engels kan praat nie. Ek het gese dis geen probleem nie, ek praat sommer vingertaal. Hy het vooraan gestap en my al die Sjinese kool gewys wat verlep in die son staan, daarna die komkommers, die tamatieplante en die Kasawa. Hy het iets probeer vra in Engels en ek het maar ja gese. Toe wys hy my ek moet hom volg. Hoer op teen die bult is ons, onderdeur struike en bo-oor stompe, tot by sy volgende tuin. Ek was uitasem toe ek daar aankom en moes maar maak of ek opgewonde is oor sy tuin terwyl ek hyg na my asem. Shame, hy het ook nie iets anders as tuinmaak en visvang wat hom besig hou nie. Volgens wat ek van ander verneem het, het hy 4 jaar in die tronk spandeer vir huisbraak hier op ons plantasie, en daarom dat hy nerens heen gaan nie. Nie dat daar enigsins iets op die eiland aangaan of waarheen hy kan gaan nie, maar hy is meer as tevrede om op die grond te le, of iewers te sit en in die vertes te staar, of sommer net ‘n deuntjie te neurie.

Nadat ek nog so rukkie daar gekuier het, het die ander kuiergaste gese hulle is gereed om te vertrek en sou my en Avinash sommer gaan aflaai en terselfde tyd hul kinders oplaai wat op dieselfde plek sou wag. Ons het gegroet en is die stywe bult op na Nabavatu.

Skaars het ons in die village aangekom toe Ema my die nuus meedeel dat ‘n koei gedurende die dag in hul stort ingebars het om uit die wasbak water te drink. Die koei was egter te groot vir die deur en het die raamwerk beskadig, en het die wasbak in skerwe geval nadat sy uit dit wou drink. Die water het egter soos ‘n fontein by die pyp uitgespuit en moes Noko vinnig plan maak om dit te stop. Ai, die arme mense, want reeds is die klein badkamertjie sonder ‘n dak, en nou nog dit ook.

 

1 comment:

  1. lekker gelees ;-), altyd iets opwindends wat gebeur in jou lewe

    ReplyDelete